Die ouers van vier leerders wat op ’n plaas 10 km buite Wellington woon, sukkel al sedert die begin van die jaar om hul kinders te registreer om gebruik te maak van die skoolvervoer wat die Wes-Kaapse onderwysdepartement in landbougebiede verskaf.
Al vier leerders het vanjaar gr. 8 begin by Bergrivier Sekondêr. Die een meisie se ouer broer is tans in gr. 10 by dieselfde skool. Volgens Pierre-Jean Gerber, wat met olywe langs die R44 boer en bekend is met die leerders se ouers, sukkel die meisie se ouers om haar by die departement te registreer, hoewel haar broer reeds geregistreer is en gebruik maak van die dienste.
“Die gr. 8-meisie moes elke oggend om 06:30 ’n saamrygeleentheid kry met ’n vragmotor wat landbouwerkers vervoer wat op ’n plaas anderkant Wellington werk, terwyl haar broer die skoolbus om 07:00 by die hek van die plaas kry. Die ander drie leerders het dan ook ’n saamrygeleentheid gekry.
“Vir die eerste paar maande moes die ouers ’n taxi betaal om hul kinders skool toe en terug te neem. Dit was die veiligste opsie, maar toe breek die taxi. Ek het nou onlangs my bakkie beskikbaar gestel om die kinders skool toe te neem en te gaan haal, want hulle mag nou ook nie meer met die vragmotor ry nie.”
Gerber vertel toe die kinders nog saam met die vragmotor gery het moes hulle in die middae, nadat die skool om 14:00 gesluit het, in die middedorp op die sypaadjie naby ’n kruidenierswinkel staan en wag vir die vragmotor wat hulle eers omstreeks 17:30 weer kom oplaai het.
Die kwessie is reeds verlede maand onder die aandag van die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, gebring, maar sedertdien is nog niks opgelos nie.
Paarl Post het navrae aan die WKOD gerig en gevra wat die registrasieproses behels en hoe lank dit neem om ’n kind te registreer sodat hy of sy kan gebruik maak van die skoolvervoer.
Millicent Merton, ’n woordvoerder van die departement, sê: “Die skool voorsien ouers van die vorm. Die voltooide en ondertekende vorm moet teruggestuur word aan die skoolhoof wat verseker dat die dokumente korrek ingevul is en by die distrikskantoor ingedien word om te sertifiseer dat die aansoek aan al die kriteria ten opsigte van leerdervervoerskemas voldoen. Distriksbeamptes onderwerp hulle aan hoofkantoor, wat leerders amptelik skriftelik magtig om op ’n bestaande busroete toegelaat te word.
“Die distrik stel die skoolhoof en kontrakteur in kennis van leerdergoedkeuring vir ’n roete. Goedkeuring kan twee tot vier weke neem.”
Die departement het die betrokke leerders se name aangevra, maar geen terugvoer oor die status van hul aansoeke is nog ontvang nie.





