Leerders aan die Hoërskool Hopefield meld aan vir die eerste dag van skool ná die inperking. Foto:


WESKUS – Baie leerders was angstig en tog gelukkig toe hulle Maandag ná 67 dae teruggekeer het skool toe.

Ten spyte van Angie Motshekga, minis­ter van basiese onderwys, se ommeswaai Sondag het graad 7- en graad 12-leerders in die provinsie terug hok toe gegaan.

Skole was verplig om vele higiëniese maatreëls in werking te stel vir die opening van die skole.

“By die Hoërskool Louwville is die nodige persoonlike beskermende toerusting vir onderwysers, leerders asook die niedo­serende personeellede aangeskaf,” het die beheerliggaamvoorsitter Mandrich Carolus laat weet. “As ’n ouer kan ons niemand kwalik neem nie. Die pandemie laat ons almal in vrees vir die gesondheid van ons kinders. As voorsitter wil ek ouers aanmoedig om hul kinders skool toe te stuur – veral ons matrikulante, maar dit is ook jul reg om jul kinders by die huis te hou,” meen Carolus.

Die onderwysdepartement het dit duidelik gestel dat ouers wat verkies om hul kinders tuis te hou, tuisonderrig moet doen. Ingevolge die Grondwet is kinders tussen ses en 15 jaar oud verplig om basiese onderrig te kry.

Volgens Wehan Fourie, hoof van die Hoërskool Hopefield, was dit nie net die leerders wat bly was om mekaar te sien nie. “HSH se eerste dag ná die grendel­tyd was vir almal ’n baie positiewe ervaring. Dit was opmerklik dat dit vir almal baie lekker was om mekaar weer te sien. In die busse, koshuisgange en die skool kan jy duidelik hoor dat daar weer vrolike kinderstemme opklink,” het hy gesê.

Fourie sê leerders het aanvanklik gespanne gelyk met die oriëntering, maar die kinders en hul ouers is gerusgestel danksy die verskeie maatreëls wat vir skoolbusse, die koshuis sowel as die skool daargestel is.

By Jurie Hayes Primêr het 80% van die graad 7-leerders teruggekeer. Volgens Donny Jacobs, skoolhoof, is een van die grootste take om vertroue met ouers en leerders te bou. Hy sê die skool, soos baie ander in die streek, deel video’s en foto’s in ’n poging om ouers gerus te stel.

Indien alles volgens plan verloop, sal die res van die land se graad 7- en graad 8-leerders Maandag 8 Junie na hul skole keer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article