Mischké Malgas en haar onderwyser Janice Hardine.


Mischké Malgas het uit haar vel van opgewondenheid gespring nadat sy as naaswenner in vanjaar se Nedbank-opstelkompetisie aangewys is.

Dié graad 12-leerder aan Klein Nederburg Sekondêr is met ’n beurs en geldprys vir haar harde werk beloon.

“Dit is vir my nog steeds onwerklik, want ek het nooit gedink ek sou so ver in die kompetisie vorder nie. Om deel te wees van die 12 leerders wat beurse gekry het, is vir my ’n groot eer. Dit beteken vir my baie om hierdie beurs te wen om sodoende verder te studeer en my drome na te jaag,” het sy opgewonde vertel.

Die kompetisie is deur Nedbank, Wes-Kaapse tesourie en die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) aangebied vir leerders wat loopbane wil volg in wiskunde, ekonomie en rekeningkunde.

Deelnemers wat dit tot die tweede ronde gemaak het, moes ’n aanbieding oor hul opstel doen. Mischké sê sy het in haar opstel op minimum lone en watter impak dit op mense het, veral diegene wat nie verder kon studeer nie, gefokus.

“Ek het gesê minimum lone moet ingestel word sodat laer geskoolde werkers voordeel daaruit kan trek en sodat werkgewers nie laag geskoolde werkers kan uitbuit nie.”

Volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD, het die onderhoofmeisie van Klein Nederburg ook aan entrepreneurskap in skole geraak. “Mischké Malgas van Klein Nederburg SS het kommentaar gelewer oor die bevordering van entrepreneurskap in skole en die pasmaak van opleidingsprogramme vir leerders in gespesialiseerde rigtings. Dit is twee gebiede waarop ons beplan om uit te brei. Met meer finansiering vir hierdie ‘langtermynbelegging’ kan dit gewis ’n werklikheid word.”

Dit is vir Mischké steeds ’n skok dat sy tweede plek in die kompetisie ingeneem het. Sy sê alle eer kom die Here toe, en ook haar ma, Cindy, en ouma Joyce, wat haar altyd deur moeilike omstandighede ondersteun. Mischké het ook haar skool en haar onderwyser Janice Hardine, wat bankvas agter haar staan, bedank.

“Sy is net ’n fantastiese onderwyser. Sy sal die ekstra myl saam met jou stap en het ’n groot verskil in my lewe as leerder en mens gemaak. Ek is so geëerd om haar as my onderwyser te hê. Ek is baie dankbaar vir haar.”

Mischké is ’n talentvolle en optimistiese jong meisie en sien daarna uit om volgende jaar BCom finansiële rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.

“Ek moedig elke jongmens aan om elke geleentheid met albei hande aan te pak, want niks is onmoontlik by die Here nie.”. Mischké Malgas, a learner at Klein Nederburg Secondary, finished second in the annual Nedbank essay competition.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article