’n Ma van Paarl sê daar moet meer aandag geskenk word aan outistiese kinders wat onder boelies deurloop.
Dit volg nadat haar 10-jarige seun, wat aan hoogs funksionele outisme ly, onlangs by ’n private naskoolse onderwyssentrum in die Paarl geboelie is.
“Hy is geboelie en gebyt deur ’n agtjarige seun en ook in sy private dele geskop. Die onderwyssentrum aanvaar geen verantwoordelikheid daarvoor nie. My kind is nou al deur so baie. Hy is nou al so baie geboelie deur verskeie kinders. Ek het hom uit die sentrum gehaal, maar waarheen nou? Hy moes nou eksamen begin skryf het.”
Sy hele lewe en die ma s’n is omvergegooi deur ’n hoof wat geen verantwoordelikheid wil aanvaar vir ’n agtjarige wat ’n tienjarige geboelie het nie.
“Dit is vir my so ongelooflik hartseer. Ek wil net hê dit moet bekend gemaak word en ma’s moet hul kinders dophou. Bewusmaking oor die kwessie is vir my baie belangrik. Ma’s moet luister wanneer hul kinders praat en opvolg wat hulle sê.”
Volgens dié ma, wat anoniem bly om nie haar kind se identiteit te verklap nie, word haar seun nou glo vir die verkeerde een uitgemaak.
“My kind word nou deur almal as die slegte een beskou en die boelie gaan aan asof niks gebeur het nie. Dit is vir my baie hartseer.
“Ek moes nou my kind Hermanus toe stuur na my ma toe sodat sy hom tuis kan onderrig, want hier is geen ander opsies vir hom nie.”
Paarl Post het die onderwyssentrum oor die voorval gekontak, maar hy het verkies om geen kommentaar te lewer nie.





