Die gewese groen gesig op Berg-en-dal, wat in November deur ’n ontwikkelingsprojek omgedolwe is, wek kommer tydens die reënseisoen.
Berg-en-dal-inwoners trek die skouers op terwyl onnatuurlike stormwater teen die grensmuur van die Val du Charron-landgoed af koers kry, wat byna lyk soos ’n toneel uit die KwaZulu-Natalse oorstromings vroeër vanjaar.
Dit volg ná die bekendstelling van die Wellington Lifestyle Estate deur JITW-ontwikkelaars in samewerking met die REDZetc-eiendomsagentskap, wat amptelik in 2021 met bouwerk begin het.
Die winterreënval lei tot die onnatuurlike opdam van water en veroorsaak dat die grond aan die grens van die bestaande landgoed-ontwikkeling wegsak.
“Gelukkig is die fondamente van Val du Charron nie ’n groot kommer op hierdie stadium nie, maar dringende ingrypings is nodig om die grensmuur te red en herstel,” sê die voorsitter van Val du Charron-huiseienaarsvereniging, Johan Bornman.
“Daar was onlangs ’n dringende vergadering belê met raadslid Nical Sauerman, die stadsbestuurder, dr. Johan Leibrandt, en ’n paar ingenieurs om dringende ingrypings te bewerkstellig. Dit was ’n goeie vergadering en die munisipaliteit gaan uit hul pad uit.”
Bornman sê tot dusver het twee wonings se grensmure weens die stormwater omgeval. ’n Vloed van geel klei bedek nou dié oop grond as gevolg van hewige modderstortings.
Drakenstein-munisipaliteit (DM) se waarnemende uitvoerende direkteur van beplanning en ontwikkeling, David Delaney, sê volgens inligting tot hul beskikking, gaan die ontwikkeling voort.
“Enige aandag aan die vloei van stormwater of onstabiele omstandighede wat weens die konstruksiewerke veroorsaak word, bly die verantwoordelikheid van die ontwikkelaars en / of eienaars van die persele waarop die ontwikkelings plaasvind.”
Ten spyte hiervan, meen Delaney, het DM met die eienaars en verteenwoordigers van die ontwikkelingspersele geskakel om die probleem op te los.
“DM het met ontvangs van klagtes die provinsiale departement van omgewingsake en ontwikkelings-beplanning ingelig oor dié situasie, met die oog op verdere ondersoek om te bepaal of daar aan alle omgewings-goedkeurings-vereistes voldoen word.”
Hy voer aan dat die munisipaliteit als in sy vermoë doen om die belange van inwoners te beskerm. “Die onus berus egter op die eienaars van die ontwikkelingspersele om die nodige regstellings te doen.”
Wellington Lifestyle Estate
Die afgelope paar maande, meen inwoners, is daar omtrent geen vordering aan die ontwikkeling gemaak nie, en talle wonder of dié projek nog voortgaan.
REDZetc. se besturende-direkteur, Pam Snyman, het aan Paarl Post bevestig dat hulle steeds met die bemarking van die ontwikkeling voortgaan.
“Op die stadium het ons al ’n paar besprekings vir eenhede wat die ontwikkeling behels. Daar is taamlike belangstelling vanuit die oorsese mark, wat selfs Spanje en Portugal, insluit.”
Medeontwikkelaar, Anneke Oberholzer van JITW, sê die ontwikkeling het aanvanklik vroegtydig weggespring. “Met dié het ons besef daar sal tye wees waar die projek sal stilstaan, as gevolg van faktore soos die reënseisoen.”
Nog ’n faktor wat die ontwikkeling laat sloer, sê Oberholzer, is die proses om nóg bestaande eiendomme aangrensend aan die ontwikkeling op te koop en sodoende nog verder uit te brei.
“Tot dusver is daar nie kontantvloeiprobleme nie. Daar is wel vereistes van finansiering om ’n sekere aantal eenhede te verkoop alvorens meer geld beskikbaar gestel gaan word om voort te gaan met die dienste.”
Sy sê die verkope van luukse-eenhede verloop goed en dat hulle gelukkig is oor die belangstelling wat die projek tot dusver lok.
“Ons kan nog nie sê wanneer ontwikkeling sal voortgaan nie, aangesien dit onderhewig aan verdere verkope is.”.Development to the luxurious Wellington Lifestyle Estate has been paused due to various factors, including seasonal winter rainfall. This caused surges of excessive water downhill on the development, that now threatens the border wall of existing estates like Val du Charron. All stakeholders are engaged to procure solutions and avoid any further damage.




