Ten spyte van wetteloosheid wat daagliks in die strate van Paarl en Wellington plaasvind en talle munisipale ordonnansies en verkeersreëls wat openlik oortree word, is die lang beplande munisipale hof in die Paarl steeds nie volkome aan die gang nie.
Die munisipale hof is sedert 2017 reeds in wording by die munisipale gebou in Bredastraat, nadat die voorstel hiervoor deur die munisipale raad aanvaar is.
Die doel van so ’n hof is om wetstoepassing met betrekking tot munisipale verordeninge, verkeersregulasies en ander wetgewing, wat deur die munisipaliteit toegepas word, te verbeter – iets wat dringend in die vallei benodig word.
Seraj Johaar, die direkteur van korporatiewe dienste van die Drakenstein-munisipaliteit, het gesê vir die hof om volkome te kan werk, is die munisipaliteit afhanklik van ’n besluit deur die nasionale minister van justisie om die hof goed te keur. Goedkeuring hiervoor is in April 2019 verwag, maar tot nou is dit steeds nie ontvang nie.
Johaar het wel gesê die volgende funksies word wel tans by hierdie hof verrig: . Die betaling van verkeersboetes word by die munisipale hof gedoen en relevante hofpersoneel sien om na die oorweging van vertoë ten opsigte van verkeersboetes;. aansoeke ten opsigte van die uitsit van diere word by die munisipale hof ingedien en geprosesseer, waarna die nodige reëlings getref word; en. aansoeke om parkeerpermitte vir gestremdes word by die munisipale hof ingedien en die uitreiking daarvan word deur die relevante amptenare van die hof behartig.
Die munisipaliteit voorspel sodra die munisipale hof ten volle aan die gang is, dit ’n aansienlike bykomende inkomste uit verkeer en ander verordeningskendings sal meebring.
Die koste van die Drakenstein-munisipale hof word geraam op ’n eenmalige uitgawe van ongeveer R1,5 miljoen vir strukturele veranderings, en ’n aanvanklike maandelikse huur van R75 000 vir nou asook ’n geraamde jaarlikse bedryfsuitgawe van R2,2 miljoen.
. The long awaited municipal court, which will be put in place to combat traffic and by-law violations among others, is still not fully implemented.




