Die departement van arbeid se werkloosheidsversekeringsfonds is mense soos dié se laaste hoop op oorlewing.Foto’s: Heleen Rossouw


Mense wat dae lank toustaan terwyl hope beddegoed die sypaadjie bedek vanweë diegene wat hul wagbeurt buite die departement van arbeid in Paarl wil behou, getuig van vertragings wat begunstigdes geen troos kan bied nie.

Dit was die ervaring wat deur tientalle werkloses verlede Donderdag net ná die Paasnaweek met Paarl Post gedeel is. Dit te midde van die onsekerheid en die afwesigheid van insiggewende verduidelikings van die departement se personeel op kantoor.

’n Ma met ’n 10 maande oue babadogtertjie op die heup, Libeka Abelse (32), was een van die mense wat sedert die Sondag al tougestaan het.

Links: Die ma, Libeka Abelse (32), met haar 10 maande oue babadogtertjie op die heup.

“Net nadat ek Paassondag se ete saam my mense kon geniet, moes ek al kom om my plek vir Dinsdag (wanneer kantoorure ná die langnaweek hervat) te kom reserveer. Van toe af het die mense al gekies om eerder op die stoepe te kom slaap. Hier staan ek vandag (Donderdag 13 April) nog.”

Mense soos sy, wat geen inkomste het nie, sukkel geweldig onder die huidige en ewig agteruitgaande sosiaal-ekonomiese omstandighede.

“Ek het nie iemand wat aldag my kind kan oppas nie, ek moes nog elke keer my baba saambring. Nou en dan moet ek iemand vra om my plek te hou, sodat ek my baba op ’n veilige plek mag voed,” vertel Abelse.

Nog ’n vrou, die 36-jarige Natalie Fortuin, sê sy staan in dié bitter stryd nadat sy as permanente werker en toesighouer by ’n plaas afgelê is. “Die plaas het nie meer geld gemaak nie, en moes sy deure sluit, wat talle plaasmense werkloos laat. Nou staan ons en wag vir ’n geleentheid om aansoek vir UIF(werkloosheids­versekeringsfonds) te doen.”

Fortuin voel asof haar menswaardigheid geweldig geskend is.

“ ’n Mens wag letterlik dae lank! Sonder enige rede of verduideliking. Die kantoor se personeel sal ons nie eens kom toespreek nie. Net so af en toe word ’n sekuriteitswag of skoonmaker uitgestuur om maar net weer te noem dat die stelsel alewig off-line is. Dis mos dieselfde ou probleem wat ’n mens tot vervelens toe moet verduur.”

Sy, en vele ander wat saam gesit en wag het, het wel groot dankbaarheid getoon aan die barmhartiges van Paarl Doenit wat kos aandra vir dié wat snags op die stoepe slaap. “Dit is werklik wonderlik dat wildvreemde mense soveel omgee om vir ons heerlike warm sop en broodjies tot in die laat ure aan te dra. Ons is ook net só dankbaar aan die polisie wat gereeld sigbaarheid toon en kom kyk of die mense wat saans hier slaap veilig is.”

Tientalle mense het verlede Donderdagoggend nog tougestaan sedert die lang wag al die vorige Sondag begin het.

Ander wat in die ry van bestaande begunstigdes by die departement van arbeid gestaan en wag het, meen hulle ken van toustaan. “Ek het vanoggend al 03:00 opgestaan om die bus van Wellington te neem en te kom toustaan vir my maandelikse afspraak,” vertel David van Niekerk (51).

Volgens hom is hy ’n gekwalifiseerde onderwyser met menige nagraadse kwalifikasies wat tot niet gaan in die hedendaagse stryd van min genade wat mense aan die oënskynlik vertraagde staatsdienste oorlaat. Paarl Post het voorheen oor hierdie voortslepende probleem berig, maar dit blyk dat nog nie ’n vinger deur die departement gelig is om die probleem op te los nie. Medianavrae is nie voor druktyd beantwoord nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article