’n Klein skooltjie in die Wellington-landbougebied se pogings om vir sy leerders goeie gehalte-onderrig en buitemuurse aktiwiteite te bied, word alewig bedreig deur misdadigers wat die skool teiken en plunder.
Volgens Blouvlei Akademie se voorsitter van die skoolbeheerliggaam is dit vir hulle ’n groot frustrasie omdat die misdadigers net aanhou terugkeer. Sedert Oktober verlede jaar is reeds ses keer by die skool, wat in die VGK-gebou in die Perdeskoen-gebied geleë is, ingebreek.
Die voorsitter, wat verkies om nie sy naam te laat publiseer nie, sê een van die misdadigers is tydens een van die voorvalle op heterdaad betrap.
“Ons het ’n voedingskema en dit is geteiken, asook sporttoerusting en gereedskap. Ons het al ons alarmstelsel verbeter en na ’n nuwe veiligheidsmaatskappy geskuif. Hulle het ’n verdagte tydens een van die inbrake op die perseel – met al die goed wat hy gesteel het– vasgetrek.
“Die verdagte het in sy verklaring erken dat hy die vorige kere ook ingebreek het en kon presies verduidelik van die goedere wat hy gesteel het en wat hy gedoen het. Alles is in ’n verklaring aan die polisie gegee. Ek het kort daarna ’n SMS gekry dat die saak gesluit is, want ‘daar is nie genoeg leidrade nie’. Hy het ná die keer dat hy op die perseel gevang is, in die hof verskyn, en toe het ek weer ’n SMS ontvang wat sê die saak is uitgestel.”
Volgens die voorsitter is die verdagte ná die hofsaak vrygelaat en is iemand het dieselfde naweek weer by die skool ingebreek.
“Hulle het die stoorkamerdeur, waar ons alles gestoor het, oopgebuig en skade aangerig. Ons het op die oomblik nie enige plek om die waardevolle goed te stoor nie, dus ry ek maar daarmee in my voertuig rond. Ons verstaan dat die probleem nie noodwendig by die polisie lê nie, maar dat die hof die saak kan uitgooi.”
Die voorsitter sê die inbrake by Blouvlei was veral baie erg in November en hulle moes ’n wag kry om saans by die skool te wees. Die kostes van ’n wag was te veel en hulle kon nie met daardie opsie voortgaan nie.
Verbasend genoeg was daar geen inbrake tydens die Desember-vakansie – kort nadat die nuwe veiligheidsmaatskappy aangestel is – nie.
Die skool oorweeg dit om verdere veiligheidsmaatreëls in te stel, maar dit gaan derduisende rande kos. Vir nou hoop hulle dat die maatreëls wat reeds ingestel is, misdadigers sal afskrik.
. A small school in the Wellington agricultural area’s efforts to provide learners with good quality education and extracurricular activities are perpetually threatened by criminals who target and loot the school.




