Agri Wes-Kaap (AWK) is versigtig optimisties oor Enoch Godongwana, minister van finansies, se aankondiging dat die regering ongeveer 60% (R254 miljard) van Eskom se skuldlas sal help verlig. Die hoop is dat ’n laer skuldlas Eskom in staat sal stel om aandag aan instandhouding en investering in kritiese opwekking en transmissie-infrastruktuur te kan gee.
AWK verwelkom ook die aankondiging dat R903 miljard op infrastruktuur uitgegee sal word. Die investering in die logistieke netwerk is vir die Wes-Kaapse landbou, wat uitvoergedrewe is, deurslaggewend. Volgens die minister sal 15% van betonwerk van die Clanwilliamdam-projek aan die einde van 2023 voltooi wees. AWK is van mening dat dié projek krities is.
Dit is goeie nuus dat besighede hul belasbare inkomste met 125 persent van die koste van ’n belegging in hernubare energie kan verminder. AWK is van mening dat hierdie ’n stap in die regte rigting is om weg te beweeg van Eskom as monopolie-energieverskaffer.
AWK verwelkom ook die kortings wat voedselverwerkers oor die volgende twee jaar sal ontvang vir die gebruik van diesel vir kragopwekkers.
AWK is ook dankbaar dat die algemene brandstof- en padongelukfondsheffing nie vanjaar verhoog is nie.
Alhoewel AWK gehoop het vir geen verhoging in aksyns nie, is dié organisasie verlig oor die tesourie se aankondiging dat aksyns op alkohol en tabak in lyn is met die verwagte inflasiekoers. Die wynbedryf verkeer tans onder geweldige druk en ’n bo-inflasie styging sou verdere druk op die bedryf geplaas het.
AWK sien verder ook uit na die opleiding en aanstellings van 5 000 addisionele polisiebeamptes per jaar.

