Die groentetuin by Laerskool Paulus Joubert hou baie voordele vir die leerders van die skool in. Bo staan Jolene Levens (onderwyser)

’n Groentetuin wat kinders op meer as een manier tot in die toekoms gaan voed, is onlangs by Laerskool Paulus Joubert op die been gebring.

Leerders sal nie net van die voedingswaardige oes kan geniet nie, maar leer ook saam watter geduld en tyd dit neem om jou eie kos te kweek.

Die ryp groente is natuurlik die beloning.

’n Leeshoekie is in die tuin opgerig waar leerders rustig kan sit en lees terwyl hulle ontspan.

Volgens www.gardenday.co.za sluit die voordele van tuinmaak ’n verbeterde immuunstelsel, stresverligting en woedeterapie in terwyl dit ook ’n gevoel van verantwoordelikheid skep. Dit verbeter ook die sensoriese stelsel en kanaliseer jou innerlike kreatiwiteit.

Die tuin is met die hulp van St. Omer-kwekery op die been gebring. Angus Thompson van die kwekery sê die skoolhoof het hulle genader om met die projek te help. Van die plantjies wat in die tuin geplant is, sluit kool, beet en aspersies in.

Kenneth Uren, die hoof, sê: “Die tuin is ’n inisiatief om ons omgewing te verbeter en ’n leerruimte vir die kinders te skep om ons leerders te help en ’n kultuur van leer te bevorder. Ons het ’n vennootskap met St. Omer-kwekery gesluit en hulle het ’n groentetuin en blommetuin aangelê.

“Ons gaan die kinders gebruik om te help om die plantjies nat te maak en ook om die tuin in die algemeen te help versorg.”

’n Paar jaar gelede was gemeenskapstuine ’n algemene gesig in die Drakenstein. Dit is ongelukkig nie meer die geval nie. Faktore soos diefstal van tuintoerusting het ’n groot rol gespeel wat tot die einde van baie tuine gelei het.

Paarl Post het in 2015 berig oor gemeenskapstuine in die vallei wat uitgesterf het. In die berig, sewe jaar gelede, het Johan Mettler, die voormalige munisipale bestuurder, gesê die gemeenskap was in beheer van die projek.

“Met die uitrol van die gemeenskapstuine was die vereistes dat dit ten volle volhoubaar moet wees asook dat die gemeenskappe verantwoordelikheid daarvoor sal neem, terwyl die munisipaliteit die projek sou ondersteun. Die hoë kostes en onvolhoubaarheid van die projekte het daartoe gelei dat die munisipaliteit besluit het om nie met die gemeenskapstuine voort te gaan nie.”

Gerald Esau, uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste in Drakenstein, sê die munisipaliteit ondersteun geen gemeenskapstuine op die oomblik nie. Die munisipaliteit het ook geen toekomstige planne om gemeenskapstuine weer op die been te bring nie.

“Die Drakenstein-munisipaliteit is nie nou betrokke by die bestuur van enige gemeenskapstuine nie. Dit is ongelukkig ’n uiters duur proses om alternatiewe waterbronne vir sulke tuine aan te lê – ook weens die risiko van vandalisme en diefstal van pompe en pypleidings waarmee die munisipaliteit daagliks te kampe het.”

* A vegetable garden that will feed children in more ways than one was recently set up at Paulus Joubert Primary.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article