Nuwe wiele op die horison? Wat nou?
Jy ry soggens in jou getroue motor werk toe en kyk met verlange na die luukse kar voor jou. Die wielietjies in jou kop begin draai. “Dalk is dit tyd vir ’n nuwe kar.”
As jy ’n nuwe ryding kan bekostig, hoekom nie? Hokaai! Maak seker jy weet presies waarvoor jy jouself inlaat.
Hier is ’n paar wenke:
Doen jou huiswerk
Honderde karmodelle is deesdae beskikbaar. Moenie laat dit jou deurmekaar maak nie! Leer soveel as wat jy kan sodat jy ’n ingeligte besluit kan neem. Hoe meer jy weet, hoe makliker sal dit wees om ’n winskopie (of foefie) raak te sien.
Wat het jy nodig?
Wees realisties oor die soort motor wat jy wil koop. Daardie splinternuwe sportmodel lyk dalk baie belowend, maar onthou dat jou kar by jou behoeftes moet pas. Het jy kinders? Karwei jy toerusting rond? Dan is ’n afslaandak nie vir jou nie. Ry jy baie rond? Dan moet jy die ekstra koste van brandstof vir ’n groter kar by jou besluit inreken.
Jou tydsberekening
Baie verskoopsmense probeer hul teikens in Desember haal, dus is dit ’n goeie idee om later in die jaar na ’n nuwe kar te kyk. Mense is ook minder geneig om in die winter karre te koop, so maak seker jy staan voor in die ry in die kouer maande.
Soek hulp aanlyn
Jy hoef nie kilometers en kilometers te ry om ’n nuwe motor te soek nie. Gaan eers aanlyn en kyk wat in jou omgewing beskikbaar is. Motors word op talle baie nuttige webblaaie verkoop. Maak net doodseker jy gebruik behoorlike handelaars.
Maak ’n lys
Jy het ’n paar karre gesien waarvan jy hou. Bel nou eers die handelaars en maak seker dat dié modelle nog beskikbaar is voordat jy al die pad soontoe ry. Sodra jy ’n kortlys het van karre wat jy wil sien, bêre dit en gee jouself nog ’n dag om jou keuses te oorweeg.
Vra die regte vrae
As jy by die handelaar is, vra die verkoopsmense alles wat jy wil weet oor die kar – die ekstras, diensplan en -geskiedenis, waarborge, padwaardigheid en finansiering. Maak ook seker jy ondersoek die kar en neem dit vir ’n toetsrit – op ’n voorstedelike pad en op die snelweg as jy kan.
Finansiering
Min mense kan ’n kar kontant koop. As jy gelukkig is, kan jy ’n deposito betaal en sodoende die maandelikse paaiement afbring. ’n Finansieringshuis sal die kar moet finansier. Praat met die handelaar oor jou opsies wat die koopprys van die kar (met en sonder ’n deposito), ekstra fooie, die termyn waaroor jy die kar gaan afbetaal, die finansieringshuise wat jou kar kan finansier en die rentekoers aanbetref.
Die fynskrif
Wanneer dit by die transaksie self kom, vra jouself af: Het jy die kontrak goed deurgelees en is jy gemaklik met die maandelikse paaiemente? Jy moet gewis nie die koopkontrak teken as jy nie 100% tevrede is met jou besluit en die voorwaardes van die kontrak nie.
Versekering
Voordat jy jou nuwe ryding huis toe ry, moet jy dit verseker.
. Bron: Virseker





