Foto ter illustrasie.Foto: Argief

Credit: SYSTEM

Die nuwe skooljaar het gister (17 Januarie) begin, en soos in vorige jare is daar weer ’n groot aantal gr.1- en gr.8-leerders wat weens laat aansoeke nog geplaas moet word.

Volgens die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) moet 2 363 gr. 1- en gr. 8-leerders in die provinsie nog geplaas word, waarvan 60 in die Kaapse Wynland-distrik val.

Die Wes-Kaap het ook 609 “uiters laat” aansoeke tussen 1 en 11 Januarie ontvang, en vyf daarvan val in die Kaapse Wynland-distrik.

“Daar is ongeveer 60 aansoeke wat nog in die [Kaapse Wynland-] distrik opgelos moet word,” volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD.

Met skole wat gesluit is, was dit moeilik om plasing te finaliseer, en toe skole Maandag 15 Januarie vir onderwysers geopen het, het hierdie proses hervat,” het Hammond gesê.

Die volgende belangrike datum in die toelatingskalender is die bekendstelling van die jaarlikse landwye blitsopname, wat sal aandui waar nog ruimte beskikbaar is vir leerders, en wat ook die WKOD in staat sal stel om hulpbronne meer doeltreffend toe te dien, wat ook die uiters laat aansoeke sal akkommodeer.

Die verslag behoort in Februarie beskikbaar te wees, het Hammond per e-pos verduidelik.

Volgens haar is daar nie ’n afsny-datum vir laat aansoeke nie, maar leerders wat hul gr. 1- of gr. 8-aansoeke laat indien, sal langer moet wag

“Daar is geen afsnytyd vir enige toelating van leerders nie. Diegene wat laat aansoek doen, sal egter dalk moet wag totdat ons plasing vir hul kind kry,” sê Hammond.

Volgens haar is die uitdaging met uiters laat aansoeke dat die WKOD nie die volgende weet nie:. Hoeveel nuwe aansoeke ontvang sal word;. die grade, taal en ouderdomme van die leerders; en. die spesifieke vakke en gespesialiseerde behoeftes van die leerders.

“Die WKOD vra geduld terwyl ons [WKOD] vordering maak met die plasing van hierdie uiters laat aansoekers. Ons kan nie voorspel waar en wanneer hierdie laat aansoekers sal opdaag nie, en dit het die vooruitbeplanning van ons hulpbrontoewysing moeilik gemaak.

“[Die WKOD] doen ’n beroep op enige ouer wat nog nie vir die 2024-skooljaar aansoek gedoen het nie om dit dadelik by hul naaste onderwysdistrikskantoor te doen.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article