Foto ter illustrasie.Foto: Argief

Credit: SYSTEM

By Drakenstein-munisipaliteit se raadsvergadering op 13 Desember het vrae vanaf die ANC rondom die burgemeester, Conrad Poole, se beweerde wanadministrasie en die aantygings van rassisme, afpersing en magsmisbruik teen nog ’n senior amptenaar die lig gesien.

Die Speaker, Koos le Roux, het egter aanbeveel dat hierdie onderwerpe op ’n private vergadering met geslote deure verder bespreek sal word.

Dus was die onderwerpe wat op die laaste raadsvergadering van die jaar bespreek was nie juis opwindend nie, en is dit ook in minder as ’n uur en ’n half afgehandel waarna die geslote vergadering begin het.

Daar is besluit dat die vier erwe wat aangekoop is vir die verbreding van Oosboschstraat in Oktober 2021 altesaam met R552 000 vergoed sal word en gefinansier sal word deur die departement ingenieursdienste.

Volgens Louis Pienaar, uitvoerende direkteur van ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, het elke grondeienaar verskillende bedrae ontvang wat wissel van R15 000 tot R133 000.

Van die totale bedrag sal die Drakenstein-munisipaliteit 20% van die volle bedrag bydra en die Wes-Kaapse regering altesame 80%.

Daar was ook sprake dat die Bergrivier-boulevard verleng sou word tot in Langstraat, en volgens Pienaar is ingenieurs tans besig met ’n ontwerp hiervoor.

“Raadgewende ingenieurs is tans besig met die ontwerp van die verlenging van Bergrivier Boulevard tussen Honeydew Estate en Skoolstraat in Noorder-Paarl.

“In hierdie stadium kan ons egter nie aandui wanneer daar met konstruksie begin gaan word nie, aangesien die begroting daarvoor nog nie bevestig is nie,” volgens Pienaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article