Die Frank Pietersen-musieksentrum kan sowaar trots wees op een van sy perkussieleerders, Kyrah Adams (’n gr.9-leerder aan die Hoërskool Gimnasium Paarl), asook haar perkussieonderwyseres, Annemie Nel.

Adams, ’n xilofoon- en marimba-speler, is hierdie jaar ná die oudisies in April as een van 27 finaliste gekies om aan die nasionale jeug-musiekkompetisie, wat verlede week van 6 tot 11 Desember by die Hugo Lambrechts-musieksentrum plaasgevind het, deel te neem.

Die kompetisie word elke jaar sedert 1984 aangebied en die doel van die geleentheid is om talentvolle, klassieke musici tussen die ouderdomme van 14 en 19 jaar te identifiseer.

Die kompetisie skep ’n platform vir leerders om blootstelling aan die vereistes wat ’n musiekloopbaan aan solo- en orkes-musici stel, te kry.

Die kompetisie word oor vier rondes beslis. Al die finaliste neem aan die eerste en tweede rondes deel, en van daar af word 12 deelnemers gekies om aan die halfeindronde deel te neem. Uiteindelik word ses finaliste gekies om aan die eindronde deel te neem.

“Dit was ’n groot prestasie om as een van die 27 finaliste uit Suid-Afrika se beste jong musikante gekies te word,” het Adams gesê.

Adams, wat nie haar eie instrument by die huis het nie, het omtrent elke Saterdag saam met Nel by die musieksentrum gewerk om die repertorium (11 werke) vir hierdie kompetisie gereed te kry en te memoriseer.

Adams het verlede Maandag en Dinsdag ronde een en twee gespeel, waar sy in elke ronde twee gememoriseerde stukke gespeel het.

Sy het verlede Dinsdagaand gehoor sy is deur na die derde ronde – die halfeindronde wat oor twee dae plaasgevind het en regstreeks na die wêreld uitgesaai is.

Hier moes Adams ’n hele 45 minute op die verhoog wees – al die ander repertorium wat sy gememoriseer het, gespeel het. Die 12 kandidate se vlak van spel was op ’n baie hoë standaard, en ongelukkig het Adams dit nie gemaak nie.

Sy het egter by die prysuitdeling aan die einde van die aand, waar onder andere kategoriepryswenners aangekondig is, die prys vir “beste ander instrument” ontvang.

Adams het op sewejarige ouderdom by die sentrum aangesluit en speel viool as tweede instrument.

Tussen 2016 en 2021 het sy aktief deelgeneem en by verskeie geleenthede en op verskillende platforms opgetree. Sy is reeds drie keer aangewys as die algehele wenner van die perkussie-afdeling in die Paarl Vallei-eisteddfod en twee keer as wenner by die Stellenbosch-eisteddfod.

Gedurende 2019 het sy na die halfeindronde van die Samro/Hubert Van der Spuy- nasionale laerskool-musiekkompetisie deurgedring, en hier is sy ook aangewys as kategoriewenner vir “ander instrumente”.

Sy is ook as deelnemer vir die Hugo Lambrechts-Concertofees in 2019 en 2021 aangewys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article