KYK | Paarlse Sassa het ‘te min personeel’ hoor wetgewer tydens toesigbesoek

Wendy Kaizer-Philander, ’n lid van die Wes-Kaapse parlement, tydens ’n toesigbesoek by die Sassa-kantoor in die Paarl. Foto: Rasaad Adams


Wendy Kaizer-Philander, die voorsitter van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer se staande komitee belas met maatskaplike ontwikkeling, het Woensdag (13 November) as deel van haar departement se toesigrol ’n onaangekondigde verrassingsbesoek by die Paarlse kantoor van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) afgelê.

Kaizer-Philander se besoek kom te midde van ’n vlaag klagtes wat haar kantoor ontvang het oor die swak gehalte diens en lang wagtye by dié betrokke kantoor.

Die kantoorbestuurder het tydens haar besoek gesê die meeste van die klagtes kan aan ’n tekort aan personeel toegeskryf word.

“Oor die Wes-Kaap heen is daar daagliks klagtes van mense wat sukkel om Sassa-toelaes uitbetaal te kry.

“Een van die uitdagings wat by hierdie kantoor ervaar word, is dat daar glo nie genoeg personeel is nie.

“Dit is natuurlik nie die eerste keer dat ons dit by ons kantoor hoor nie. Sassa het op nasionale vlak ’n komitee wie se verantwoordelikheid dit is om vakante poste te vul,” het sy Woensdag buite die Paarlse kantoor gesê.

“Ek is wel vanoggend deur hierdie personeel verseker dat hulle daardie ekstra take verrig sonder enige vergoeding sodat soveel as moontlik mense moontlik gehelp kan word.

“Hierdie kantoor bedien beide die Drakenstein asook die Stellenbosch- munisipale gebiede,” het Kaizer-Philander bygevoeg.

Sy is ook ingelig dat daar gereeld tegniese probleme met die aanlyn stelsel by die Paarlse tak ervaar word.

“Die netwerkprobleme wat verlede maand ervaar is, is intussen reggestel, maar die stelsel wat in Oktober in werking getree het, veroorsaak glo vertragings.

“Daar is die nodige politieke wil in die Wes-Kaap om hierdie individuele probleme op te los. Ons verwagting is dus dat die provinsiale regering Sassa sal nooi en ’n pad saam met hulle sal stap om sodoende hierdie klagtes na die beste van ons vermoë op te los.”

Volgens Kaizer-Philander sal ’n portefeuljekomitee eersdaags ’n openbaredeelnameveldtog begin nadat ’n onlangse opname onder bejaarde Sassa-begunstigdes ernstige probleme oor dié staatsdepartement aan die lig gebring het.

“Sassa as ’n nasionale staatsentiteit sal na die tafel toe moet kom. Ons wil weet hoekom is dit die geval dat poste nie gevul word nie.

“Hoekom is dit die geval dat die stelsel nie ten gunste van ons mense werk nie?

“Ons gaan veral fokus op ons plattelandse gebiede. Dis hier waar mense dikwels ver van die dienste af is en nie die nodige kommunikasie ontvang nie, maar ook brood op die tafel wil sit.”

Sy het verder gesê voorstelle sal gedoen word oor hoe kommunikasie by die Paarlse kantoor tussen begunstigdes en die personeel verbeter kan word – veral met die aanmeld van klagtes en voorstelle.

Kaizer-Philander lewer Donderdag (14 November) ’n rede in die provinsiale wetgewer waarin sy ’n skerp fokus sal plaas op die klagtes wat haar kantoor oor Sassa in die provinsie ontvang het.

Die debat word om 14:00 op die provinsiale wetgewer se digitale platforms uitgesaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article