’n Video van die besonderse waarneming van ’n luiperd wat op die Wemmershoekdam se wal loop, doen die ronde op sosiale media en is wyd en syd gedeel.
Volgens Evril Jefthas, wat by die Wemmershoekdam werk, het sy kollega, Roscou Boonzaaier, die video verlede Woensdag (18 Oktober) geneem toe hy dié pragtige dier omstreeks 14:00 gewaar het.
Die luiperd-waarneming is nie iets wat gereeld gebeur nie, en hierdie onlangse voorval was heel “onverwags”, sê Jefthas.
Volgens hom het hy in die langer as 20 jaar wat hy al by die dam werk, nog net drie keer luiperds gewaar.
“Daar is ’n hele paar [luiperds]; nie net een nie. Ons [die mense wat by die Wemmershoekdam werk] het ook al een met kleintjies wat verbygestap het, gesien,” het Jefthas gesê.
Volgens hom stap dié luiperds op die damwal op soek na ’n donserige dassie wat gereeld in die son lê en bak, as ’n peuselhappie.




