Die nimmereindigende stortreën wat oornag oor wye gebiede in die Boland uitgesak het, het vanoggend (Woensdag 14 Junie) tot chaos op paaie en dorpe in en om die Drakenstein-vallei gelei.
Dié mate van oorstromings is van Bybelse proporsies aangesien Noag se ark handig sou gewees het met oorstromings en vertragings wat oral in die vallei aangemeld is.
Verskeie roetes soos die R301, Bainskloofpas en Wemmershoek-pad tussen Paarl en Franschhoek is weens oorstromings vir verkeer gesluit. Probleme op die Simondium-pad is ook aangemeld.
Verskeie dorpse paaie in die Paarl, Franschhoek en Wellington is verspoel, wat tot erge verkeersopeenhopings en ure lange vertragings gelei het – veral op besige roetes soos Jan van Riebeeck-weg, terwyl die nywerheidsgebied in die Paarl onder water is.
Verskeie bronne sê sommige werkers in die Paarlse nywerheidsgebied is aangeraai om eerder tuis te bly, aangesien persele met water deurtrek is.
Uiteraard word ook talle gevalle van verspoelings en modderstortings aangrensend aan die sterk vloeiende riviere aangemeld.
Die Wemmershoekdam tussen Paarl en Franschhoek se sluise is volgens bronne gister reeds geopen en met die Bergrivierdam wat ook reeds oorloop, styg die Bergrivier net nog meer.
Die Drakenstein-munisipaliteit se direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, bevestig dat etlike hoofpaaie in die Drakenstein-munisipale area het oorstroom, soortgelyk aan wat in Desember 2022 gebeur het as gevolg van ongewone hoë reënval in die omgewing.
“Paaie in Gouda, Vlakkeland en Drommedaris moes gesluit word vir veiligheid maar is intussen heropen sodat Drakenstein Munisipaliteit met skoonmaak-aksies kan begin.
“Die volgende areas word geaffekteer: Bergrivier Boulevard, Van der Stelstraat, Lustigan, Kolbe-straat, Blommendal, Hoofstraat Suid, Jan van Riebeeck Weg, Marais-straat (Wellington), Annie Benjaminstraat, Zuidmeer, die nywerheidsgebied in Wellington (Westhoven), Distillerystraat, Skoolstraat, Simondium, Vlakkeland, Gouda-ingangspad, asook Drommedaris. Mure het ook by Non Pareille-, Foxglove-strate en die Jan Phillips-pad inmekaar gestort.”
Die munisipaliteit het sandsakke en plastieksakke versprei ten einde aan die onmiddellike behoeftes van die geaffekteerde persone te voldoen. Hawelose persone is na skuilings verwys waar hulle warm maaltye, droë kleding en komberse kan kry.
“Die munisipaliteit is besorgd oor begrafnisse wat vir hierdie naweek geskeduleer is. Drakenstein se begraafplase is tans ontoeganklik, wat uitdagings bied om waardige begrafnisse te hou. Die Drakenstein-munisipaliteit sal met ondernemers kommunikeer in dié verband.”
Esau verseker egter dat die munisipaliteit se padsingenieurswese spanne en verkeersdienste saamwerk om die geaffekteerde gebiede skoon te maak. Verkeersbeamptes word ook op sleutelpunte langs paaie ontplooi.
“Gereelde kommunikasie sal plaasvind rakende alternatiewe roetes sodat bestuurders veilig by hulle eindbestemmings kan kom.”
Die munisipaliteit word tans oorval deur versoeke vir hulp by privaat eiendomme, en eiendomseienaars word aangemoedig om voorkomingsmaatreëls in plek te stel ter voorbereiding van die voorspelde swaar reënval gedurende die komende langnaweek.
“Inwoners word ook sterk aangeraai om skuiling by hulle familie en vriende te soek totdat die weersomstandighede gestabiliseer het,” voeg Esau by.
Die Bergrivier is volgens inwoners die volste wat hulle dit in jare gesien het, met die rivier wat sy walle heeltemal oorstroom het. Die Langstraatbrug in Noorder-Paarl is juis Woensdagoggend vir verkeer gesluit.
Sowat 30 mm reën het Maandag (12 Junie) uitgesak, gevolg deur 25 mm Dinsdag, terwyl Woensdagoggend se reënval tot 50 mm opgelewer het, wat dit altesaam tot minstens 105 mm vir die week tot Woensdag-middagete-tyd bring.
Nóg swaar reën word vir die res van vandag en môre (Donderdag 15 Junie) verwag, en alle nooddienste is op ’n gereedheidsbasis waaksaam vir enige verdere oorstromings of ander noodsituasies.
Mense wat items wil skenk aan inwoners wie se wonings oorstroom is, kan dit by die brandweerstasie in Bergrivier Boulevard in die Paarl aflaai. Inwoners van Drakenstein kan noodgevalle en voorvalle aanmeld by ons tolvrye nommer by 080 131 3553, of via die SeeClickFix toepassing (sien Drakenstein – SeeClickFix) of deur hul wyksraadslid te kontak (sien http://www.drakenstein.gov.za/about-us/political-leadership/contact-a-councillor).
Vir uiterste noodgevalle of brande kan die brandweerdienste by 021 872 2323 geskakel word.





