Besoekers kan die skitterende sterrehemel – spesifiek die sprankelende sterrebondel “47 Tucanae” – van nader leer ken tydens die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se sterrekykpiekniek op Paarlberg hierdie Saterdag (11 Februarie).
Dit beloof om ’n feestelike aand in die beeldskone omgewing te wees, met ’n pragtige sonsondergang en ’n gratis besoek aan die ikoniese struktuur.
Gaste kan die heelal verken met die hulp van die Orion-observasiegroep (OOG) se lede, wat graag hul kennis en teleskope gratis deel. Die fokus is op “47 Tucanae”, die heelal se tweede helderste bolvormige sterrebondel, wat in die suide duidelik sigbaar is.
Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjies en drankies (geen glas) te bring of ’n piekniekmandjie by Die Suikerkan by 082 216 2510 of 082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel. Dié koffiewinkel sal ook verversings by die geleentheid verkoop. Gaste word aangemoedig om die omgewing te verken en die monument, ’n simbool belaaide beeldhouwerk sonder weerga, te besigtig. ’n Gratis begeleide toer om alles te verduidelik, begin om 18:30.
Buitelug-speletjies en speelparke vir kinders is beskikbaar. Onthou asseblief verkykers en warm klere. Genoeg veilige parkering is gratis beskikbaar.
Die piekniekreeks word aangebied ten bate van “Laat ons Lees!”, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders; derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of gebruikte kinderboeke te skenk.
Die geleentheid begin om 18:00 waarna besoekers van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur. Die toegangsprys is R50 per volwassene en R15 vir onder-18’s; kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar, maar bespreking (021 863 0543/4809 of bemarking2@taalmuseum.co.za) is noodsaaklik sodat die klub vir genoeg teleskope voorsiening kan maak.
Sterrekykpieknieks sal gekanselleer word indien die weer nie saamspeel nie – skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 vir weernavrae op die dag self. Voorafgekoopte kaartjies kan oorgedra of vergoed word.. Vir nog inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taal-museum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.





