Ouers se gesindheid teenoor wiskunde word direk aan hul kinders oorgedra, en kort voor lank sit hulle met ’n kind wat bang is vir die vak en nie die selfvertroue het om te probeer nie.
Maar, dis nooit te laat nie, en met die nodige aanmoediging en hulp kan die meeste kinders wiskunde baasraak.
Dis hier waar ouers ’n groot rol kan speel, want afgesien van wat jou ervaring was, is soveel hulp en raad deesdae beskikbaar dat die meeste kinders goed kan vaar in wiskunde, veral as hulle toegelaat word om in hulle moedertaal onderrig te word.
Afrikaans.com gee riglyne oor wat ouers en onderwysers kan doen om kinders van kleins af nuuskierig te maak oor die wonder van getalle sodat hulle sommer vroeg al syfers met selfvertroue sal aanpak.
Die kind moet glo hy kan
. Die kind wat glo hy kan iets doen, het meer selfvertroue en sal meer geneë wees om te probeer. Daarom is dit belangrik om die kind se sterkpunte uit te lig, want dit help om sy selfvertroue te versterk wat sal help om wiskundige vaardighede baas te raak.. Verseker hulle dat dit oukei is om nie die eerste keer reg te wees nie en dat hulle weer kan probeer.. Moenie die kind verkleineer nie – dit is ’n ouer en opvoeder se taak om ’n kind te koester en sy selfvertroue te versterk – nie om die kind af te breek nie.. Verduidelik hoekom wiskunde ’n belangrike lewensvaardigheid is en dat ’n mens dit elke dag oral en op verskillende vlakke gebruik.. Let op jou kind se leesvaardigheid, want leesvaardigheid en wiskunde gaan saam. Om met selfvertroue en met begrip te kan lees, dra by tot jou kind se getalbegrip.
Hoe kan ouers en onnies help
. Dit is belangrik dat die ouers en onderwyser saamwerk en dat die ouers op hoogte gehou word van waarmee die kind in die klas besig is. Sodoende kan die ouer die werk tuis versterk. . Sê vir jou kind: “Verduidelik waaroor dit gaan.” – Die kind herhaal vir die ouer wat hy geleer het.. Versterk begrippe deur daaroor te praat.. Bespreek hoe wiskunde in ons wêreld gebruik kan word.. Indien die kind geen belangstelling in wiskunde het nie, kan ouers en die onderwyser ook saamwerk om die kind se nuuskierigheid en selfvertroue te help ontwikkel. Dit lei dikwels tot ’n ommekeer in gesindheid en kort voor lank besef die kind dat hy wel wiskunde kan doen – die sogenaamde “ek kan”-benadering.. Maak wiskunde pret en realisties. Dink aan ander innoverende maniere om die vak aan te bied. . Dit is belangrik om vas te stel waar die gaping in die kind se wiskunde-kennis lê en dan ’n stappie terug te neem om die kind op ’n konkrete vlak te help om dit op daardie vlak te bemeester. Op dié manier sal hy dan die volgende begrip kan verstaan en uiteindelik sy wiskunde op peil kry.
Hendrik de Kock, ’n Wolkskooldosent by die Skoleondersteuningsentrum, gee die volgende wenke om ’n liefde vir wiskunde by jou laerskoolkind te kweek:1. Fundamentele en basiese wiskunde. Dis belangrik om die basiese reëls te ken, soos volgorde van bewerkings en vermenigvuldigingstafels.2. Hulpmiddels. Gebruik telrame, albasters, blokkies, ensovoorts.3. Wys op relevansie. Wiskunde is oral om ons, bv. in resepte as ’n mens kosmaak en hoeveelhede moet afmeet, om tyd en afstand aan te dui, en om kombinasies van byvoorbeeld tyd en afstand aan te dui.4. Speel wiskundespeletjies. Dit maak die aanleer van wiskunde prettig.5. Gebruik die beskikbare tegnologie tot jou kind se voordeel. Laat hulle wiskundespeletjies op die rekenaar speel.6. Vergeet van reg en verkeerd. Fokus liewer op logika om by die korrekte antwoord uit te kom. Dit kweek kritiese denke en probleemoplossingstrategieë.




