’n Groepuitstalling deur 13 kunstenaars is tot 9 Augustus in die Breytenbach Galery by die Breytenbach Kultuursentrum in Wellington te sien.

Die uitstalling, met die tema “Ritme & Skandering”, sluit ’n verskeidenheid werke van glas, keramiek, houtskool, fotografie, skilderye en etse deur plaaslike en internasionale kunstenaars in.

Die deelnemende kunstenaars is Joubert Stander, Marieke Kruger, Annette Snyckers, Wynand Troskie, Hannatjie de Clercq, Van Wessels, Susan Smuts, Alexander Laurean, Eve Peyretou, en die Wellingtonners Alisa Farr, Willem Mulder, Hendré Retief en Kobus Coetzee.

Die tema van die uitstalling is geïnspireer deur die letterkundige Ampie Coetzee se doktorale proefskrif, Ritme & Skandering, wat in 1972 deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer is.

Coetzee, wat in 2020 oorlede is, was ’n dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Witwatersrand (Wits) en die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) asook ’n stigterslid van die Breytenbach-sentrum. Sy studie het ’n ongewone ondersoek na ritmiese sisteme in Afrikaanse gedigte behels, insluitend hoe ritme in gedigte deur klankopnames geskandeer en gemeet kan word.

Volgens Anne-Ghrett Erasmus-Coetzee, kurator van die Breytenbach Galery, het Coetzee ritme beskou as ’n vorm van “georganiseerde geweld”, ’n digkunstegniek wat ’n digter kan toepas om normale, stereotipe taalgewoontes te versteur om sy eie vars en unieke boodskap meer effektief oor te dra.

Erasmus-Coetzee sê ritme dien egter nie net as die basis vir die skepping van woordkuns nie, maar ook vir vele ander kunsvorms.

“Wat hierdie uitstalling so opwindend maak, is dat die kunstenaars die tegnieke van ritme en skandering ondersoek en in hul onderskeie mediums toepas en uitbeeld. Ritme vorm ’n raamwerk waarbinne kreatiwiteit tot uiting kan kom,” verduidelik Erasmus-Coetzee.

“Dit geld ook vir die visuele skeppingsproses. En vir soveel meer; vanaf die herhaling van lewende selletjies in ’n blaar, tot lamppale op snelweë. Dit is oral om ons.”

. Die galery is oop van 10:00 tot 17:00 van Maandae tot Vrydae en van 10:00 tot 13:00 op Saterdae. Die sentrum is geleë in Burgerstraat 14, Wellington, en huisves ook ’n koffiewinkel, ’n tweedehandse boekwinkel en ’n digterstuin.

Vir meer inligting, besoek www.breytenbachsentrum.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article