Die bobaas-braaier Bertus Fourie gaan deelnemers ’n ding of twee wys op Kokkedoor: Vuur & Vlam.Foto: Gys Loubser


Die bekende wynman van die vallei, Bertus Fourie, is al jare lank bekend vir sy vernuf met wynmaak, veral as die “vader” van tjoklit-pinotage. Nou sal televisiekykers kan sien watter uitstekende eienskappe Bertus ook agter die kospotte, veral om die braaivuur, het.

Bertus sal van vanaand (27 Julie) te sien wees in die nuwe aanbieding van kykNET se Kokkedoor-reeks, Kokkedoor: Vuur & Vlam.

Bertus vertel dat hy van kindsbeen af ’n groot belangstelling in kosmaak het. Soveel so dat hy gereeld as kind vir sy ma gesê het dat hy vir die aand se maaltyd sal sorg.

Hy vertel in sy grootwordjare in Moorreesburg was daar altyd blikkies tuna, vars tamatie en blaarslaai en dan ook geblikte aspersies in die huis.

Dus is sy ouers later tot verveeldheid gevoer met die jong Bertus se “kreatiewe slaaie” hiermee.

Later jare het Bertus gebou op sy kookvermoëns en vandag is hy ’n bobaas-braaier en sy vuur-vaardighede het vir hom ’n plek in Ultimate Braaimaster se eindronde losgeslaan.

Bo en behalwe sy baie besige program as sakeman en wynmaker, onder meer vir Under Oaks buitekant die Paarl, doen hy ook gourmet braai-spyseniering vir alles van intieme en spoggerige verjaarsdagpartytjies tot groot korporatiewe geleenthede met soveel as 900 gaste.

Maar hy is op sy gelukkigste wanneer hy saam met sy wynmakervrou, Corlea, om die kospotte kan wees om heerlike disse vir familie en vriende te berei.

Bertus sê dat die ervaring om deel van Vuur & Vlam te wees uiters besonders was.

“Dis ’n klipharde braai-kompetisie elke dag, maar die lekkerste was die samesyn en ondersteuning van alle deelnemers wat soos een groot familie geword het tydens die opnames.”

Verder vertel hy dat hy gaande is om te braai en voor die kospotte te wees, maar dat dit bitterlik uitdagend was om baie komplekse geregte binne ’n bepaalde tydraamwerk te voltooi.

“Braai gaan mos oor meer as net die kos voorberei, dit gaan oor kuier om die kole.

“Maar hier moes ons flink om die kole beweeg om uiters komplekse geregte te berei.”

Bertus sê dat hy kan nie wag om die reeks te kyk nie, nie net vir goeie herinneringe nie, maar omdat die produksiespan uiters professioneel is, en eintlik wêreldklas te werk gaan.

Twintig deelnemers sal elke Donderdagaand te sien wees in kykNET se nuwe koswerklikheidsreeks Kokkedoor Vuur & Vlam.

Dié reeks, wat in die gewilde Overbergse stranddorp Struisbaai verfilm is, begin op Donderdag 27 Julie om 20:00 op kykNET.

Vir Kokkedoor Vuur & Vlam gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei, terwyl die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha op soek is na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier.

’n Onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar hul hart klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos.

Kinkelbraaiers word gekies vir hul kwalifikasies en/of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.

Talle kos- of produkspesialiste, asook ’n bekende persoonlikheid of twee, maak verskynings in die reeks, terwyl die bekroonde kosskrywer en EAT OUT-beoordelaar Herman Lensing en kosfoendi Errieda du Toit deel is van Kokkedoor Vuur & Vlam se vervaardigingspan.

Benewens Bertus is daar twee ander plaaslike deelnemers om dop te hou, Braam Potgieter (25) van die Paarl en Cindy Menigo (38) van Wellington.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article