Die Wellingtonse kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) is reeds weke lank al aan die gang, en studente het weer van oor die land heen teruggekeer om hul akademiese jaar voort te sit.
So bevestig KSUT se woordvoerder, Lauren Kansley, wat sê dat assesserings in volle swang hervat is, en “dit rond semester een af”.
In reaksie op vrae oor die stand van sake met betrekking tot die moontlike verdagtes van brandstigting en kwaadaardige protesaksie, het Kansley slegs gesê daar is tans geen voorvalle nie en alle kampusse is kalm en stil.
“Personeel het ook terugr geapporteer vir hul voor-ontruiming werkskedules.”
Dit ná KSUT-studente Vrydag 12 Mei verplig was om hul tasse te pak en terug te keer huis toe.
Soos voorheen berig, het die besluit om hul kampus en koshuise te ontruim gevolg ná voortgesette gewelddadige ontwrigtings waar geboue afgebrand en institusionele infrastruktuur moedswillig aangeval en beskadig is.
Tydens vanjaar se protesaksies is ’n SS-gebou op die Wellington-kampus weens brandstigting verwoes, en in die dae wat gevolg het, is ’n klerekas binne een van die koshuise ook aan die brand gesteek.
Dít het uiteraard die KSUT-universiteitsbestuur “genoop om die sluiting van alle kampusse vir onbepaalde tyd aan te kondig”.
Kansley het destyds beklemtoon dit is as gevolg van “onbeheerste studente”, wat in kwader trou optree, met die uitsluitlike doel om die universiteit “wanfunksioneel” te maak, dat die bestuur met geen ander keuse gelaat is as om vinnig en beslissend op te tree nie.
Dit beteken uiteraard dat die universiteit se beplande opedag, wat vir Saterdag (13 Mei) geskeduleer was, ook afgelas is.
Ongelukkig het Kansley geen nuwe terugvoer oor die opedag gehad om met Paarl Post te deel nie, “maar al die inligting bestaan ??wel op die webwerf en aansoeke vir studie in 2024 is nou oop” sê sy.
Kort ná chaos in die vorm van brandstigting en protestonele Wellingtonners vroeër vanjaar op hol gejaag het, het Kansley voorheen die volgende kommentaar oor die gedrag uitgespreek: “Die KSUT-bestuur sal nie die wetteloosheid en chaotiese protestonele deur ’n gepeupel, wat nie daarin belangstel om in goeder trou te onderhandel nie, duld nie. Dié beslissende optrede wat geneem is om kampusse te sluit en om koshuise leeg te maak, is ’n bewys hiervan. Die veiligheid van ons gewaardeerde personeel en studente is ons topprioriteit.”
Maar wat nou juis van die einste gepeupel wat heel waarskynlik op kampus terugverwelkom is?
“Ons kan nooit beweer dat protesoptrede nie weer sal plaasvind nie, dit is ongelukkig ’n simptoom wat met hoëronderwys in Suid-Afrika geassosieer word,” het Kansley gesê.
“Ek dink egter die onlangse ontruiming het gewys dat ons die veiligheid van personeel en studente ernstig opneem en alles in ons vermoë sal doen om dit te verseker.”





