Skokgolwe het onlangs deur Wellington beweeg toe ’n 18-jarige student van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) in dié dorp na bewering verkrag is.
Die voorval het glo op 14 Mei vanjaar plaasgevind toe die slagoffer ’n partytjie vir studente saam met haar vriende in die SS-saal bygewoon het. Die meisie, ’n eerstejaarstudent, sê toe sy en haar vriende by die partytjie opdaag, het sy sosiaal verkeer en nuwe mense ontmoet. Die voorval maak opslae nadat dit onlangs aan die lig gekom het nóg ’n 18-jarige student van die Universiteit Stellenbosch is onlangs in ’n manskoshuis na bewering verkrag.
“Ek het met die nuwe mense naby aan my vriende gepraat, waar my vriende my kon sien. Ek het ná ’n rukkie na my groep vriende gegaan om te vra of ons [terug koshuis toe] kan gaan, want dit het baie koud geword. ’n Man het van nêrens af gekom en my van die skare af weggetrek. Ek onthou duidelik hierdie man was langer as ek en het ’n baie diep stem gehad. Hy het my op my naam geroep. Ek onthou niks wat agterna gebeur het nadat ek die skare saam met dié man verlaat het nie.”
Nog diep getraumatiseer deur die gebeure vertel die meisie toe sy uiteindelik na die skare studente by die partytjie terugkeer, was haar voorskrifbril in haar hand. Sy kon nie lekker sien nie, maar kon gelukkig ’n vriendin uitken aan die kleur van haar baadjie. Een van haar vriendinne het haar na die badkamer vergesel en gesê sy is met bloed besmeer.
“Toe ons terugkom by die koshuis het ek vir my vriende gesê ek dink ek is verkrag. Hulle het gesê hulle sal vir my ’n bad water tap en dan kan ons in die oggend daaroor praat. Toe ek in die bad klim, was daar bloed in die water. Ons het dit by die huisbestuurder aangemeld, wat die polisie ontbied het.”
Almal reageer nie dieselfde wanneer dit by traumatiese gebeure kom nie.
Die meisie vertel sy kan niks daarvan onthou nie en het ook geen idee of sy enigsins deur die man bedwelm is nie. Sy ken ook glad nie die verdagte nie, maar vermoed hy het in die skare gehoor iemand noem haar naam.
Die slagoffer sê sy ontvang baie ondersteuning van die universiteit en die polisie is ook in kontak met haar.
Die ondersoekbeamptes wag tans vir DNS-resultate van die bloederige weefsel wat die slagoffer afgeskei het.
Aan ander mense, wat deur dieselfde situasie gaan wat sy nou ook beleef, wil sy net sê dat dit nie hul skuld is nie. “Ek het net vir myself gesê alles gebeur met ’n rede. Dit is nooit net jou skuld nie. Ek het nie gevra daarvoor nie en ek was in ’n plek waar ek gevoel het ek is veilig. Maar op daai oomblik toe dit gebeur het, was ek nie veilig nie. Ek was ook nie uitlokkend aangetrek nie.”
Lauren Kansley, woordvoerder van die KSUT, het by navraag gesê: “KSUT ondersoek bewerings deur ’n Wellingtonse student dat sy verkrag is. Die saak word ook deur die plaaslike polisie ondersoek.”
Kansley voeg by dat alle personeel en studente ’n noodreaksie-riglyn ontvang in die geval van enige verkragtingsvoorvalle wat op kampus plaasvind. Sy meen dit help om die universiteitsgemeenskap op te voed oor hoe om betyds op hierdie soort aanvalle te reageer.
“In gevalle van verkragting bestaan ’n standaardprotokol, wat insluit verslagdoening aan kampusbeskermingsdienste vir ondersoek.
Kampusgesondheid, studenteberading en die bystand van plaaslike Thuthuzela-sorgsentrumdienste help ook.”
* Shockwaves recently moved through Wellington after an 18-year-old student from the Cape Peninsula University of Technology (CPUT) was allegedly raped in the town.




