Kruis opgerig waar inwoners lyk van vermiste Gouda-bejaarde (67) ná 2 weke vind

Inwoners en familielede het verlede week ‘n kruis opgerig op die plek waar die lyk van Katriena Smit (67) gevind is. Foto: Curtley Rens Smith

Niemand sou kon dink dat sy daar sou lê nie en die soekgeselskap het waarskynlik verskeie kere verby haar lyk gestap.

Só het ‘n familievriend van die 67-jarige Katriena Smit, ‘n bejaarde vrou van Gouda, wie se lyk ná twee weke in ‘n bos gevind is, verlede week vertel nadat inwoners verlede Maandag (4 Augustus) op haar oorskot afgekom het.

Die voorlopige uitkoms van ‘n lykskouing het volgens die familie getoon dat Smit reeds 19 dae dood was.

Smit, wat volgens haar familie Alzheimer se siekte gehad het, het op 17 Julie volgens haar dogter vermoedelik op pad huis toe verdwaal.

LEES: Inwoners vind lyk van Gouda-bejaarde meer as twee weke ná sy spoorloos verdwyn

Katriena Smit is die afgelope Sondag (10 Augustus) begrawe. Foto: Verskaf
Katriena Smit is die afgelope Sondag (10 Augustus) begrawe. Foto: Verskaf

Die soektog, wat deur die polisie en inwoners soos Jonathan April gelei is, het die soekgeselskap na ‘n beboste gebied in die ooste van die dorp gelei waar mense haar glo oor ‘n laagwaterbrug sien loop het.

“Die familie se hoop was natuurlik dat sy iewers by mense is wat sukkel om haar geliefdes op te spoor. Ons het tog maar gaan soek omdat mense haar glo sien stap het.

“Dit was vir ons hartseer om haar in daardie toestand te sien. Haar liggaam was al donker en aan die ontbind.

“Aan die ander kant is ons bly sy is gevind sodat die familie darem nou finale afsluiting kan kry,” het die familievriend, wat weens privaatheid nie geïdentifiseer wil word nie, gesê.

“Ons het die afgelope drie weke slapelose nagte gehad. Ons was angstig oor waar sy haar moontlik kan bevind. Ons het in ‘n stadium nie eens meer geweet waar om te soek nie,” het die familielid bygevoeg.

Sy sê die gebied waar Smit se lyk aangetref is, is steil en feitlik onbegaanbaar vir ‘n bejaarde vrou.

“Daai omgewing is steil en baie bebos. Ons sou nie kon dink dat sy daar sou wees nie. Ons het verskeie kere tydens die soektog daar verbygestap.”

Volgens haar is die familie ingelig dat Smit reeds sowat 19 dae dood was.

Volgens April, wat die dorp se inwoners gemobiliseer het om te help soek, het hulle Maandag (4 Augustus) kort ná 15:00 op haar lyk afgekom.

“Die vermoede is dat sy dalk oor ‘n heining probeer klim en moontlik geval het. Haar een skoen was van haar voet af en haar sokkie het aan die heining se draad gehang.

“Haar liggaam was reeds aan die ontbind. Dit het ook gelyk asof die een of ander gedierte aan haar voet begin vreet het,” het April vertel.

Smit se man, wat sy been tydens die eerste aand van die soektog beseer het, sterk ook nog aan.

Smit is die afgelope Sondag (10 Augustus) in Gouda ter ruste gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article