Vir langer as ’n eeu al kuier Paarliete by Krismiskamp bo-op Paarlberg vir Kersfees.
Hulle sê om ’n volwaardige Paarliet te wees, moet jy óf in hierdie dorp gebore wees óf 40 jaar hier gewoon het. En dan moes jy al by Krismiskamp bo-op Paarlberg piekniek gehou het.
Krismiskamp is werklikwaar ’n juweel van ’n uitspanplek op die berg wat oor die Paarl waak.
Hier word jy omsingel deur sprankelende fynbos, die kronkelende takke van eeue oue olienhoutbome, asook die kenmerkende granietrotse van Paarlberg, wat daar staangemaak is nog lank voordat ’n mens sy verskyning op die aardbol gemaak het.
Die middelpunt van Krismiskamp is juis ’n granietrots waarop ’n reuse-Kersklok geverf is, asook ’n hele ry familiename. En nee, dit is nie niksseggende graffiti van kwajongens nie, maar ’n herinnering aan die Grundlingh- en die Perold-gesinne wat sedert 1907 hier in die Kerstyd uitgespan het. Dié rots was hul Kersboom en die natuur hul speelterrein.
Lank voor die dae toe ’n pad teen die berg geskraap is, het die gesinne met perdekarre teen die rante aan die suidelike rand van die berg voortgesukkel, waar die Gabbema Doordrif-pad nou tot by die Taalmonument lei. Hul perdekarre was volgelaai met tente, kos, klere en beddegoed, asook ’n paar hoenders vir slag, en “hog”-bier. ’n Paar koeie is berg-op gejaag vir melk en botter.
Die pad was nie baie goed nie, en elke jaar – so drie weke voor hul vakansie – is ’n paar werkers gestuur om die pad skoon te maak en ’n bietjie herstelwerk te doen. Dan moes die groter seuns die koeie te voet teen die steilte van die berg aanjaag tot net aan die ander kant van Paarlrots, waar Krismiskamp byna versteek lê.
Oor die jare het hulle die kampeerplek onder die olienhoutbome mooi ingerig met “kamers” en ’n “kombuis”.
In die kombuis is spykers ingekap waaraan eetgerei en doeke gehang kon word, en daar was ook ’n “koelkas” – ’n raam waaroor nat sakke gegooi is – waarin die bier, melk en botter heerlik koel gebly het.
Vandag nog kan van die lang, geroeste spykers in die olienhoutbome gesien word, ingekap om die tente staan te maak.
Hulle het selfs ’n klei-oond saamgeneem waarin een van die boervroue koek en brood gebak het.
Eers was dit net die Perolds en Grundlinghs, en later het die Warmhovens en die Therons bygekom.
In die dag het die kinders perd gery en die grootmense het jukskei gespeel. Allerlei speletjies is ook uitgedink om die kinders mee besig te hou.
In die hitte van die dag het almal skuiling onder die olienhoutbome gesoek, en in die aand het almal tot laat om die kampvuur gesels.
Later, toe die kinders ouer begin raak, het hulle in die middag afgestap Paarl toe om tennis te speel of te gaan fliek.
So het vriende van die dorp ook opgestap om vir die dag te kom kuier.
Dit moes nou werklik idilliese Kersfeestye gewees het.
Nou
Vandag is Krismiskamp se olienhoutbome gelukkig nog steeds daar, en ’n mens verwonder jou oor hoe groot hierdie bome kan word.
Dis meer as 100 jaar later en ons braai steeds vleis en hou piekniek onder Krismiskamp se skadubome.
Maar dit is ’n baie besonderse ervaring om Kersdag by Krismiskamp uit te span – weg van die hitte en rumoer van die dorp. Hier span bekende Paarliete soos Danie du Toit van Spoegwolf en sy gesin al jare lank op Kersdag uit; ook die sangeres Laurinda Hofmeyr. Vanjaar het die joernalis en televisiepersoonlikheid Ivor Price ook op Krismisdag ’n draai by Krismiskamp kom maak.
Die manne braai graag tjops en boerewors en meen hul wors is net die beste in die kontrei – dit terwyl die glase vol gehou word met Paarlse wyne.
Dit lyk ook of die kinders vir ’n verandering weer kinders kan wees – slimfone en tablette is tuis gelaat en hulle klouter oor die granietrotse, klim en swaai aan die kronkelende takke van die olienhoutbome – nes die kinders seker 100 jaar gelede gedoen het. Jy hoor nie ’n selfoon of die knaende klank van verkeer nie – net ’n jolige geklets en gelag.
Dis duidelik dat talle ou Paarliete gewoond is om mekaar op dié dag hier raak te loop en dan ’n bietjie te gesels oor die jaar wat was, ’n wyntjie te drink en sorgeloos om die braaivleisvuur te sit – steeds in die skadu van dieselfde ou bome en langs dieselfde ou granietrots waar die Grundlinghs en Perolds die name neergeskryf het van die nuwelinge wat elke jaar gebore is.





