Die goue reël vir ’n suksesvolle sakeonderneming is nog altyd om proaktief op te tree deur vooraf ’n risiko-ontleding te doen om te keer ’n probleem word groter as die oplossing.

Dit bring ons by die situasie waarin die regering hom tans bevind met die energiekrisis en Eskom se onvermoë om deurlopend krag te voorsien.

Hoewel dit verfrissend is om te sien dat die regering wil ingryp en probeer red wat te redde is, lyk dit asof die regering skielik sy hande weens sy aandeel daaraan wil was.

President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika hierdie week toegespreek oor die voortslepende energiekrisis en aksiepunte gedeel oor hoe die regering beplan om dit aan te durf.

Opvallend was die regering se hulpkreet aan sake-eienaars, huiseienaars en die private sektor om met die regering hande te neem om oplossings te vind.

Hoewel nasiebou ten alle koste bevorder moet word om vooruitgang in ons mooie land te verseker, is dit effe arrogant van die regering om voor te stel sakeondernemings en huishoudings “wat kan”, moet in sonpanele belê as een van die vier aksiepunte wat geïdentifiseer is om die energiekrisis die hoof te bied.

’n Mens kan maar net wonder of die regering so ywerig gaan wees om geld hiervoor beskikbaar te stel, of gaan die belastingbetaler net weer moet opdok?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article