President Cyril Ramaphosa het sy Staatsrede in die Kaapstadse stadsaal gelewer.Foto:


Verlede week se langverwagte Staatsrede van die president, Cyril Ramaphosa, het weer eens groot reaksie uitgelok. Veral die nuus oor die ramptoestand weens die voortslepende kragkrisis is op almal se lippe.

Die Drakenstein se burgemeester, Conrad Poole, het heelwat oor die Staatsrede te sê gehad.

“Eskom se voortslepende en hoogs ontwrigtende toepassing van beurtkrag is besig om Suid-Afrika in ’n chaos te dompel. Daarom verwelkom die Drakenstein-munisipaliteit die feit dat president Cyril Ramaphosa in sy Staatsrede op ’n oplossing vir hierdie krisis gefokus het,” sê Poole.

“Nie net word sakeondernemings se werksaamhede hierdeur gekortwiek en inwoners ontwrig nie, maar munisipale infrastruktuur en dienslewering ly skade. Munisipaliteite landwyd moet die hand dieper in die sak steek om kragopwekkers en diesel aan te skaf om volgehoue dienslewering te kan verseker.

“Die nasionale regering se onvermoë om tot nou ’n noemenswaardige duik in die hantering van dié enorme probleem te maak, plaas outomaties meer druk op die plaaslike regeringsfeer.

“ ’n Mens kan maar net hoop dat die president se woorde tot vrugbare, bekostigbare en eerbare aksies sal lei en hierdie Titanic sal omdraai.”

Dirk Breytenbach van die Drakenstein-sakekamer het sy kommer uitgespreek.

“Soos gewoonlik het die Staatsrede weer eens misluk om vertroue of hoop vir ’n beter lewe vir almal in SA te wek. Die geykte retoriek en ideologiese benaderings vir ekonomiese oplossings vir SA se uitdagings was weer eens vaardig tydens die hoeveelste Staatsrede waar ons verwagtinge verydel is,” sê hy.

“Die afkondiging van ’n noodtoestand om die mensgemaakte krisis die hoof te bied laat die rooi ligte flikker. Die fiasko van die drakoniese ekonomiese maatreëls wat tydens die Covid-19-pandemie ingestel is, het die ekonomie erg gestrem en nou word dieselfde kabinetskomitee weer met ’n oplossing vir die kragramp vertrou.

“Die sakekamer is van mening SA kan nie nog ’n ronde dwaas maatreëls, wat die ekonomie verder sal skaad terwyl werkloosheid en korrupsie steeds hoogty vier, bekostig nie. Dit is nou duidelik dat die burgerlike groeperinge van die ekonomie onverwyld sal moet toetree om met plaaslike en provinsiale regerings saam te werk vir innoverende oplossings om die energieramp te bowe te kom. Die ramp met kragvoorsiening bedreig die voortbestaan van alle ondernemings oor ’n wye front, asook die welstand van miljoene landsburgers – ons werkers en verbruikerskorps.

“Dit is tyd dat kiesers en belastingbetalers swak regering beloon met ’n duidelike nee-stem in die komende verkiesing in 2024 – NEE vir swak besluite oor brood-en-botter-kwessies. Die jaarlikse begrotingsrede word met kommer afgewag en ons hoop die regering sal verantwoordelik met ons belastinggeld optree.

“Die welstand van Suid Afrika en sy mense kom mos eerste, hoe dan anders!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article