Soos die Wes-Kaap en Oos-Kaap hulself weer voorberei op nog ’n koue, nat en winderige week wat voorlê, het Eskom gewaarsku dat hulle ’n toename in kragonderbrekings verwag weens die gure weer.
Die gure weer kan die netwerk belemmer en die verskaffing van elektrisiteit beïnvloed aan verbruikers in sommige gebiede, wat hulle moontlik vir lang periodes sonder elektrisiteit kan laat. Sulke stormagtige omstandighede kan ook herstelperiodes beïnvloed vir tegniese spanne in die veld.
Eskom doen dus ’n beroep op verbruikers om geduldig te bly en die kanale te volg wat beskikbaar gestel word om foute aan te meld.
In ’n mediaverklaring het Eskom gesê hulle sal in die tydperk hul reaksie prioritiseer op grond van die erns, grootte en duur van moontlike foute. Foute wat meer as 48 enkele klante sonder elektrisiteit laat sal voorkeur geniet.
Kliënte word aangemoedig om die MyEskom Customer app af te laai wat beskikbaar is in die Google Play Store vir Android-toestelle. Die app laat verbruikers toe om foute aan te meld waarna hulle onmiddellik ’n verwysingsnommer verskaf sal word waarmee die vordering van die fout nagespoor kan word.
Alternatiewelik kan klante 086 003 7566 bel of ’n e-pos stuur na customerservices@eskom.co.za.Eskom vra om verskoning vir die ongerief en doen ’n beroep op verbruikers om geduldig te bly.




