Die koue weer het nie net sy tol geëis van mense nie, maar ook diere, wat in die koue en gietende reën sonder die nodige sorg na hulself moes omsien met beide die Paarl asook Wellington se dierebeskermingsvereniging (DBV) wat ’n groot aantal diere moes red.
Volgens Lisinda Lubbe, die bestuurder van Paarl se DBV, lyk dit slegter as die vorige winter vir huisdiere, en veral dragtige honde, juis omdat die koue en nattigheid skielik erg nader gekruip het en steeds woed.
Liz Down, kantoorbestuurder van die Wellingtonse DBV, het gesê die kantoor het 225 diere in Junie ingeneem, terwyl 240 in Julie na die skuiling gebring is.
Tydens die ontruiming in Newton toe die damwal ’n gevaar ingehou het om te breek en die water oorstromings in die woongebied kon veroorsaak, het die Wellington-DBV 10 diere ontvang om te bewaar totdat die huismense na hul wonings kon terugkeer, volgens Down.
Ván die diere is intussen aan hul eienaars terugbesorg, of aangeneem met altesaam 59 diere wat steeds permamente huise kort.
Lubbe, daarenteen, het vertel dat die Paarl-DBV vyf honde in Junie en 10 honde in Julie uit die strate gered het.
Dit is ’n aansienlike toename in vergelyking met verlede jaar se winter toe minder diere in die strate rondgedwaal het en gered moes word.
Dit is nog nie duidelik hoeveel diere die Paarl-DBV altesaam in Junie en Julie gered het nie, wat sal insluit die aantal rondloperhonde wat opgetel is.
Beide die Paarl- en Wellington-DBV het ’n toename in die aantal oproepe om hulp ontvang, met Wellington wat 95 in Junie en 121 in Julie ontvang het.
Volgens Lubbe word honde meestal aangehou om as waghonde te dien, maar in die proses word hulle verwaarloos omdat hul huismense nie na hulle omsien nie, wat hul fisieke gesondheid beïnvloed.
Die verlies aan kos en water, diere wat in vuil omgewings leef en die tekort aan veearts-besoeke word as voorbeelde gebruik om dié verwaarlosing op te som.
Hoewel die meeste van die diere wat deur die Paarl- en Wellington-DBV ingeneem word, honde insluit, is daar ook katte, wat permanente huise moet kry.
In die geval van Wellington se DBV het hulle in die huidige winter selfs perde in hul sorg geplaas, het Down gesê.
Die Wellington-DBV het die afgelope Dinsdag ook onder bendegeweld deurgeloop toe hulle tydens hul weeklikse kliniek in Abduraghmanweg in Weltevrede in die kruisvuur beland het en met klippe bestook is.
“Daar is twee mededingende bendes in daardie gebied – die mense wat aan die een kant van Wellington woon, kan nie na die Dinsdag-kliniek stap nie, al is dit nader [omdat dit in die ander bende se gebied is],” volgens Down.
“Die een bende het gesien hoe die ander bende hul honde [na die kliniek bring] en toe is hulle met klippe bestook [deur die ander bende].”
“Ons [Wellington-DBV] glo ons was net in die kruisvuur.”
“Personeel en kliënte met hul diere moes binne die mobiele kliniek skuiling kom soek totdat die polisie ná ons tweede oproep aan hulle opgedaag het.”
Vir veiligheid is dié weeklikse kliniek na die hoek van Jan van Riebeek-rylaan en Springbokweg in Weltevrede verskuif.





