Die Paarlse Protea Keegan Petersen was verlede week op Nuweland teen Indië in aksie te sien. Hy het ’n merkwaardige bydrae gelewer in die span se naelskraapse oorwinning oor die manne van die Ooste.


Die ware impak van sy uitstekende kolfbeurte vir die Proteas verlede week teen Indië het steeds nie ten volle by Keegan Petersen ingesink nie.

Hierdie oud-leerder van New Orleans Sekondêr in Paarl se uitstekende kolftegniek het grotendeels tot die Proteas se naelbytsege oor Indië bygedra.

Keegan het sy eerste 50-tal vir die Proteas in dié toetsreeks geslaan, en dit met nog twee 50’s opgevolg. Hy was deurgaans koel en kalm en het boulers gefrustreerd gehad toe hy die bal oral oor die veld laat loop het.

In verlede week se maak-of-breek-wedstryd is hy op die laaste dag van spel eindelik vir 82 uitgehaal, maar hy was ’n groot rede vir Suid-Afrika se sege met sewe paaltjies, wat ook die toetsreeks vir die Proteas beklink het.

En hiermee beskou talle hom nou as die held van Nuweland wat tot die Proteas se redding gekom het.

Petersen het regdeur die reeks ware staal gewys met die temperament en kolftegniek wat hom nog een van die wêreld se topkolwers kan maak. Hy is ’n klassieke kolwer, wat die grenslyn keer op keer bereik het met allerlei balle waarmee hy gepeper is. Hy kan dryf – deur die dekke, reguit terug verby die bouler en tussen middebaan en halfby deur. Hy het selfs ’n goeie omgekeerde veeghou wat draaiboulers briesend laat.

Dié 28-jarige Paarliet se puik spel in die toetsreeks is beloon deurdat hy as die speler van die wedstryd én die speler van die reeks aangewys is.

Keegan, wie se tuiste tans Durban is, waar hy vir die Dolphins speel en waar hy saam met sy vrou, Kaylin, en hul eenjarige seuntjie, Blake, woon, het in 2011 aan NOSS gematrikuleer, waarna hy sielkunde by die Universiteit Stellenbosch gaan studeer het. Hier het hy vir Maties gespeel, toe die Cape Cobras, en daarna ’n kort tydjie in Bloemfontein deurgebring. Hy het een seisoen ook vir ’n Engelse klub gespeel.

Petersen is reeds van ’n vroeë ouderdom af verslaaf aan krieket, maar sê dit vloei eintlik in sy are met sy ooms en pa wat kranige sportmanne was.

Pa Dirk, ’n onderwyser by NOSS, het van kleins af vir Keegan duisende balle in die oefennette gegooi en hom aangespoor om sy beste te lewer. Keegan sê sy pa is sy grootste inspirasie en ondersteuner.

Hy is egter spyt dat sy geliefde ma nie saam met die gesin sy hoogtepunte van die afgelope toetsreeks kon ervaar nie – sy is in Augustus 2021 ná ’n lang siekte oorlede.

Keegan kan vanjaar nog baie mylpale haal. Hy vertrek op 2 Februarie saam met die Proteas vir ’n reeks in Nieu-Seeland, daarna is dit Bangladesj se beurt, gevolg deur Indië en dan die Proteas se toer teen Engeland – ’n baie bedrywige jaar vir die jong pa om lang tye weg van die huis af te wees.

“Maar dis my werk en dit moet eenvoudig gedoen word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article