Bheki Cele, die minister van polisie.Foto: Gallo Images


Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het Vrydag die misdaadsyfers vir die tweede kwartaal van vanjaar bekend gemaak waarin ’n algemene styging in misdrywe soos inbrake, sakeroof en diefstal vir die Paarl en omliggende gebiede teenoor verlede jaar aangemeld is.

Die statistieke verwys na misdrywe wat tussen Julie en September vanjaar gerapporteer is en word vergelyk met syfers in dieselfde tydperk oor die afgelope vyf jaar.

Een skokkende syfer vir die Paarl is die feit dat hy vanjaar vierde lys vir sakeroof met altesaam 95 sakerooftogte wat tussen Julie en September vanjaar plaasgevind het teenoor 76 in dieselfde tydperk verlede jaar.

Eiendomsroof, wat onder meer huisinbrake insluit, het ook drasties toegeneem met 409 gevalle vanjaar teenoor 296 verlede jaar.

Die statistieke toon ook ’n toename in diefstal uit voertuie, met 197 gevalle wat tussen Julie en September plaasgevind het, teenoor die 129 oor dieselfde tydperk verlede jaar.

Daar was ook ’n toename in diefstal vanuit winkels (shoplifting) met 92 voorvalle vanjaar teenoor 75 verlede jaar.

Misdaadsyfers vir die tweede kwartaal.Grafika: Rasaad Adams, Paarl Post

In Paarl-Oos, wat ’n afsonderlike polisiëringsgebied is, het kontak-misdaad wat onder meer moord, poging tot moord en aanranding insluit, so te sê onveranderd gebly met 134 gevalle vanjaar teenoor 131 verlede jaar.

Kwaadwillige saakbeskadiging in Paarl-Oos het ook met slegs 1 geval afgeneem, met 130 vanjaar teenoor 131 in Julie tot September verlede jaar.

Daar is baie opportunistiese misdade en dis ’n algemene probleem oor die hele Paarl heen. Dit is gewoonlik die steel van klein artikels soos krane en ander goed uit agterplase wat veral deur dwelmgebruikers gepleeg word. Hierdie “tikkoppe” stap rond en kyk wat hulle vinnig en maklik kan steel.

Jaco Prins, AfriForum-buurtveiligheid

Jaco Prins, verbonde aan AfriForum se eenheid vir buurtveiligheid in Noorder-Paarl, het by navraag aan Paarl Post gesê hulle skryf die algemene styging toe aan dwelmmisbruik waardeur die Paarl geteister word.

“Daar is baie opportunistiese misdade en dis ’n algemene probleem oor die hele Paarl heen. Dit is gewoonlik die steel van klein artikels soos krane en ander goed uit agterplase wat veral deur dwelmgebruikers gepleeg word. Hierdie “tikkoppe” stap rond en kyk wat hulle vinnig en maklik kan steel.”

Volgens Prins neem hulle ook ’n toename in “georganiseerde misdaad” waar.

“Ons kyk hier na sindikate wat voertuie teiken en inbrake by huise baie goed uitvoer. Hulle kom hier in met voertuie en verken die buurt. Hulle laai hul makkers af, besteel huise en verlaat dan die buurt asof niks gebeur het nie. ’n Mens kan duidelik sien wanneer iets goed gereël is, want die ouens word eenvoudig nie gevang nie.”

Hy sê die misdade word dikwels deur gewone misdadigers gepleeg.

“Hierdie is ouens wat ons gereeld vang. Hulle word dikwels vasgetrek deur private sekuriteitsfirmas en dan aan die polisie oorhandig.

“Binne ’n paar dae of soms dieselfde dag is daai ou weer op straat. Weer in dieselfde gebied.”

Prins is van mening daar moet vorentoe ’n samewerkende verhouding geskep word tussen die polisie en organisasies wat hulle vir buurtveiligheid beywer.

“Dit is vir nou ’n baie praktiese oplossing. In ander gebiede soos Stellenbosch voer die polisie doeltreffende optredes in samewerking met hul buurtwagte uit. Nou wonder ’n mens hoekom dit nie die geval in die Paarl kan wees nie. Die realiteit is dat die polisie nie altyd genoegsame hulpbronne en personeel het nie. Ons moet dus mekaar se hande sterk maak.”

Prins sê Paarl se vierde plek vir die meeste sakerooftogte is kommerwekkend en skets ’n donker prentjie vir buurtveiligheid in die omgewing.

Intussen het Andrew Whitfield, die DA se nasionale woordvoerder oor polisiëring, gesê hulle sal aan pres. Cyril Ramaphosa skryf en die bedanking van Bheki Cele, polisieminister, eis.

“Hierdie skokkende syfers wat vir meer as ’n dekade steeds styg, is ’n direkte gevolg van swak leierskap tesame met swak beleide en besluite wat hoër op geneem word.

“Onder die minister se leierskap het die polisie sowat 8 000 speurders en 5 000 reserviste verloor. Boonop is daar steeds ’n agterstand in die verwerking van DNS-toetse,” sê Whitfield.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article