Sondag word Frankryk se grootste feesviering van die jaar gevier, Bastille-dag. Op 14 Julie 1789 het Parysenaars in baie groot getalle die Bastille bestorm, ’n tronk in die hartjie van Parys wat ’n simbool geword het van alles wat die Franse oor hul land en hul regering gegrief het: Korrupsie in die adelstand, ’n tirannieke monargie en groot klasse-ongelykheid.
Hierdie het gelei tot die Franse Revolusie wat adelstand tot ’n val gebring en gelei het na ’n meer gelyke Frankryk.
En hier in Suid-Afrika loop die Franse bloed diep in vele Suid-Afrikaanse are nadat die Franse Hugenote hierheen gevlug het, en onder meer grootliks verantwoordelik was vir die ontstaan van die Kaapse Wynlande.
En ek self vanaf Hugenote-herkoms, vier jaarliks Bastille-dag met kos en wyn. En wat beter as om ’n pot coq au vin aan die gang te kry, maar in plaas van ’n bottel Franse wyn daarmee te geniet, ondersteun ek eerder ons eie wynbedryf.
Coq au vin is een van die bekendste Franse disse, maar is verrassend maklik om te maak en propvol geur. Dit is basies hoender wat stadig geprut is in ’n ryk, geurige wynsous. Dit is ’n spesiale soort maaltyd met min moeite en ’n bonus is dat dit net ’n eenpot-gereg is.
Coq
au Vin
Jy benodig (vir 4 stewige porsies)
– 8 repies spek, in klein blokkies gesny
– 4 hoenderdye
– 4 hoenderboudjies
– ½ teelepel sout en ½ teelepel swartpeper
– 1 pakkie (250gr) klein knopiesampioene (indien hulle groter is, halveer hulle)
– 12 baba-uitjies, skil
– 1 medium ui, fyngekap
– 1 ½ koppies wortels in ringe gesny
– 2 knoffelhuisies, fyngekap
– 1 eetl. tamatiepasta
– 2 eetl. koekmeel
– 1 ½ koppies droë rooiwyn
– ½ koppie beesvleisaftreksel
– 4 takkies vars tiemie of ¾ teelepel gedroogde tiemie
– 2 lourierblare (opsioneel)
– 2 eetl. botter
– 1 eetl. suiker, verkieslik bruin
So maak jy:
1. Voorverhit die oond tot 190 °C.
2. Soteer die spek in ’n oondvaste skottel oor medium hitte tot bros. Verwyder van pan en sit opsy.
3. Geur hoenderstukke met sout en peper en braai die hoenderdye in die speksous met die velkant na onder vir vyf minute of tot goudbruin, en verwyder van pan. Braai dan die boudjies ook tot goudbruin en hou opsy met die dye en spek.
4. Braai nou die wortels en ui in die pan (voeg ’n bietjie botter of olie by indien nodig) en braai totdat die uie net begin sag word, ongeveer vyf minute.
5. Roer die knoffel en tamatiepasta by en prut vir nog ’n minuut. Strooi die meel oor, roer goed deur, en kook vir nog ’n minuut.
6. Voeg die rooiwyn en beesvleisaftreksel bietjies vir bietjies by terwyl jy aanhoudend roer om ’n gladde pasta te vorm. Voeg die tiemie, lourierblare en helfte van die spek by.
7. Plaas die hoender bo-op die mengsels en skep van die sous bo-oor.
8. Sit die deksel op die skottel en bak in die oond vir 30 minute. Haal dan die deksel af en bak vir ’n verdere 20 minute of totdat die hoender gaar is en die vel goudbruin.
9. Terwyl die hoender bak, sit die baba-uitjies in ’n pan met water totdat hulle byna bedek is. Bring vinnig tot kook en kook hulle tot sag maar nie pap nie, ongeveer 15 minute. Giet enige oortollige water dan af en sit die botter en suiker by en roer totdat die uitjies gekaramelliseer is. Sit dan die sampioene by en roer als saam vir ’n minuut of twee.
10. Voeg die ui-en-sampioen-mengsel by die hoender, meng deur en bak vir nog 10 minute.
11. Verwyder uit oond, gooi die lourierblare weg en garneer met die oorblywende spek en handjievol fyngekapte pietersielie en sit voor saam met kapokaartappels of pasta.




