“Net ’n R2 asseblief, Meneer. Ek is honger, Meneer. Of as Meneer my nie glo nie, dan kan Meneer maar self ietsie gaan koop. Net ietsie virrie maag, Meneer . . . groot asseblief.”

Klink hierdie woorde vir jou bekend? Kan jy nog die prentjie oproep van daai man of vrou wat die laaste keer ietsie “vir die maag” by jou kom vra het? Natuurlik is dit nie ’n vreemde verskynsel nie, want ons almal weet hoe swaar dit in ons land en provinsie gaan en in die feestyd is dit asof die verskynsel aansienlik toeneem. Dis te verstane, want in die feestyd is daar darem daai ekstra paar rand en hopelik ietsie vir dié wat dit nie so breed het nie.

Die feestyd is ’n tyd van welwillendheid. Dis ’n tydperk waarin ’n mens darem nie net aan jouself wil dink nie en jou hart en hand vir ander wil oophou – soos die karwag wat die hele jaar getrou toegesien het dat jy darem ’n mate van rustigheid het as die inkopies gedoen moet word. Ek wil glo dat dit vir die meeste karwagte ’n eerlike paar rand is wat hulle verdien en waarmee van hulle ook ietsie vir die gesin op die tafel kan sit.

Ek is nou nie so seker van daai spannetjie wat op jou afpyl en sonder toestemming sommer die voorruit van jou kar begin was nie. Dis darem vir my ietwat te voor op die wa. Ek meen maar as ek so ’n groot behoefte daaraan het om my kar te was, dan sal ek dit self doen of dit laat doen. Nietemin glo ek dat daar ook diegene is wat jy uit persoonlike ervaring op meriete kan keur vir die ruitwassery. Maak maar die vergunning, want dalk bring jy ook vir daardie mens ’n bietjie vreugde hier in die Kerstyd.

Kom ons vergeet nie van ons haweloses nie. Daar mag verskeie redes wees waarom so iemand op straat beland het, maar kom ons wees ruimhartig genoeg om nie van diesulkes te vergeet nie, want dit mag dalk net jyself of ’n familielid gewees het wat in daardie posisie kon beland het. Ek herinner my telkemale daaraan dat daar tussen my en die hawelose of watter randfiguur ook al slegs die genade van Bo is. Wie is ek om so iemand op straat te oordeel? Mag jou hart en hand ruim genoeg wees om hierdie feestyd ietsie van jou ruim Kersete vir die hawelose oor te hou.

Die feestyd kan ook ’n tyd van eensaamheid vir baie mense beteken. Daar is dalk ’n bejaarde iewers in ’n woonstel wat sy of haar maat vroeër in die jaar aan die dood afgestaan het. Nou is daardie een sonder die lag en vreugde wat die ander gebring het. Kom ons vergeet nie van ons bejaardes nie. Kom ons maak ook hul harte bly deur daardie spontane inloer en geselsie om die ergste eensaamheid te verdryf.

En vir diegene met bejaarde ouers in versorgingsoorde . . . moet tog nie van Ma en Pa vergeet hierdie feestyd nie. Onthou, dit is deur hul opoffering dat jy vandag die mens is wie jy is.

My hart gaan ook in hierdie tyd uit na hulle wat in ’n stryd gewikkel is met die “swart hond” – depressie. Kom ons neem ’n oomblik en reik ook na diesulkes uit.

Mag ons hierdie feestyd ekstra moeite doen om by daardie vriend of vriendin in te loer. Daardie WhatsApp-boodskappie van jou na hom of haar kan dalk net die verskil tussen lewe of dood beteken. Sonder om onnodige vrae te vra of die rol van berader in te neem, hoop ek eerder dat ons net deur ons vriendelike daarwees ’n verskil in so iemand se lewe kan maak. Mag die lig in jouself hierdie feestyd só helder skyn dat jy die donker van die swart hond in jou vriend se lewe sal verjaag.

En as die gesin begin inpak vir die welverdiende vakansie by die see, wil ek tog mooi vra dat ons nie van ons dierekinders sal vergeet nie. As ons vierpootkinders nie kan of mag saamgaan nie, maak tog asseblief seker dat mooi na hulle omgesien word vir die tydperk wat julle nie by die huis sal wees nie. Ek wil glo dat daar iewers iemand met ’n omgeehart vir diere is wat mooi na jou dierekind sal kyk. En al mag dit dalk ’n paar ekstra rand uit die sak beteken, maak tog net mooi seker dat hulle veilig is. Ons dierekinders word aan ons toevertrou. Hulle verdien ons liefde, omgee en respek.

Ek was nou die ander dag op pad na ’n winkelsentrum. Daar gestop kom ek agter dat iemand sy twee minderjarige kinders in die motor agtergelaat het. Die kinders het histeries gehuil. Die kar se ruite was toe. My hart wou breek. Ek het na die sekuriteitswag geloop en die situasie verduidelik. Gelukkig het die pa daar opgedaag.

Hoef ek enigsins verder te verduidelik hoe belangrik dit is om hierdie feestyd na ons minderjarige kinders om te sien? Kom ons geniet hierdie feestyd op ’n ruimhartige en verantwoordelike wyse.



,


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article