‘n Verjaarsdagpartytjie vir Jesus is gepas in die feestyd. Ek bedoel, almal ken Hom, so dit sal gemaklik en gemeensaam wees. Geen omslagtige formaliteite nie. Net: Almal is welkom. Die Tuin van Eden sou ’n rustige plek gewees het vir die partytjie, maar dit het misluk. Die Tuin van Getsemané, by die voete van die Olyfberg, sal kan werk, maar dis te ver. ’n Virtuele Tuin het ek op besluit, sodat almal wat nie haastig is nie hul eie veilige, vredevolle plekkie kan skep. Ek wou eers ’n verrassingspartytjie hou, maar besef toe gou die gaste se name is in Sy handpalms gegraveer en ek sal dalk iemand oorslaan. Geen venuevoorskrifte is nodig nie, want dis beter vir jou as jy kom net soos jy is.

Om nie met leë hande op te daag nie, kan jy ’n paar goedjies bring. Bring jou talente, jou glimlag, jou demonstratiewe gewoontes, jou mees intense ervaringe van vreugde, jou gelukkige hart, jou gemaklike stiltes en deel dit uit soos sonstrale wat snoesig mense kan omhels en heel maak.

Bring jou deursettingsvermoë, jou durf en dissipline, jou geduld om iets aan te pak en ’n sukses daarvan te maak, jou vermoë om liefde ’n werkwoord te maak. Jou eerbare bedoelings met die verstotenes, jou opregtheid wanneer jy die reënboog in mense soek tot jy dit vind. Bring jou onmoontlike verwagtinge, sodat Hy dit kan waar maak. Verder sal jou karakter gepas wees, jou persoonlikheid sal Hom nie beïndruk nie.

Hierdie sal ook die geleentheid wees om dit saam te bring waarvoor jy nie meer kans sien om saam met jou te dra nie. Bring jou seer, ontnugterings en eensaamheid. Jou geswoeg en gesukkel, jou trane en pyn, jou heimwee en koue winters, jou smart en sorge, jou geld en die ellende wat daarmee saamgaan, of jy het of nie het nie.

Maar, soos met alle weggooigoed is dit soms beter om bietjie herwinning te doen. Weer deur alles te gaan en seker te maak daar is niks wat jy wil verander, verbeter, oordoen, teruggee of dalk wil hou nie.

In die vuilgoedsak sal dinge wees soos jou ego, grootpraaterigheid, aangeplakte besorgdheid, vroomheid, onvriendelikheid, bemoeisiekgeit, praat-voor-jy-dink, bitterheid, onvergenoegdheid – jy sal weet wat dit is. Jy kan regstellings oorweeg en aandagtig deur alles werk. Jy kan besluit om ’n verhouding wat dalk skipbreuk gely het deur jou voortvarendheid weer te herstel, tot onkeerbare vreugde vir al twee se harte. Jy kan vrede maak met jou tekortkominge en vergifnis gaan aanbied. So kan ons almal selfondersoek doen. Die doolhof van kaderwysheid en ruim beleggings waarop jy roem met maniertjies en verhewe veroordeling van ander onder die vaandel van godsdiens kan dalk minder van belang wees as jy vlugtig in ander se skoene staan en vernielde mense se nederigheid probeer.

Nou ja, die weggooiplek vir al jou rommel sal óf die ooste óf die weste wees, dis God se belofte aan ons.

Gekom by die spyskaart. ’n Feesmaal sal berei word. Lewende water sal deur die aand bedien word. Dit sal suiwer en skoon wees. Om jou dors te les met hierdie water is waar die uitdaging en skielike vreugde verskuil lê, want net jy kan bepaal of jou dors geles is of nie.

Tafelversierings sal verskaf word deur die natuur. Vyeblare, vir die wat nog dink hulle kan daaragter wegkruip om ’n vergrypie te kamoefleer, sal nie vir dra wees nie, maar as plekmatjies dien. Brood sal uit die Bakker se deurboorde hand uitgedeel word.

Geselstyd met Jesus word ingeruim. Vertel Jesus van jou drome (dié waaroor ander lag) en jou verlanges. Vertel Hom van jou weerloosheid as mens-wees, van vergeefsheid en lyding. Van hoop en vergifnis, van nietigheid en waardigheid en ook die kosbaarheid van familie. Vind gerusstelling in Sy alomteenwoordigheid.

Ek skryf op my lysie: Bedankings – en ek val vas. Die partytjie is nie om ego’s te behaag nie. Jou gesindheid moet wees soos op ’n kisbank met die afbeelding van ’n hond op die rugkant. Onder die hond is gegraveer: “I mean well”. Die eenvoud van die woorde maak dat jy dit weer lees, en weer lees tot jou hart versadig is daarvan en jy weet wat jou doel op aarde is.

Jesus sal wag, soos altyd, tot die bitter einde vir die laatkommers. Die verhaal van die verlore skaap se relevansie vir vandag sal weer bevestig word. Jy sal gemis word as jy nie opdaag nie. Maar, helaas, dis jou besluit.

Koos du Plessis som dit baie mooi op. “God is net ’n dagloner/wat alles gee in elke dag/en self moet sien waar Hy oornag./Maar soms is Hy ’n bywoner.” God glimlag goedkeurend oor mense wat godsdiens en lewe nie skei nie, maar spontaan versoen.



,


You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article