Daar is nie ’n beter tyd om te “loop vir hoop” as nou nie! Oktober word ingelui as HOOPtober, met Ithemba se Hope Hike, wat Sondag 1 Oktober plaasvind.
Oktober word nie net as die mooiste maand beskou nie, maar dit is ook die Wêreldgesondheidsvereniging se psigiese gesondheidsbewusmakingsmaand.
Die Ithemba-stigting, ’n organisasie sonder winsbejag, nooi almal om op die Blaauwklippen-wynlandgoed net buite Stellenbosch op ’n heerlike gesinsvriendelike roete te kom stap en jou deel te doen om die stilte en stigma rakende psigiese gesondheid te verbreek.
Ná die stap volg ’n gelukstrekking vir oud en jonk.
Depressie en verwante siektes soos angsstoornisse is nie ’n geval van “ruk jouself reg” nie. Dis biologiese, kliniese siektes – en daarom behandelbaar. Herken die simptome, erken aan jouself jy het hulp nodig en maak ’n afspraak met jou dokter. As dit simptome van ’n ander siekte was, sou jy nie gehuiwer het om dokter toe te gaan nie. Hoekom dan nie vir psigiese siektes nie?
Ithemba beteken hoop – om die siekte van wanhoop te verbreek en mense met hoop te laat lewe. Jy kan boonop ’n ambassadeur vir hoop wees deur die hele maand jou hemelsblou-vir-hoop-strikkie vir bewusmaking te dra.
Kom geniet die lieflike lentewingerde en daarna kan jy en jou geliefdes met eetgoed van die Sondagmark op Blaauwklippen ontspan.
Jy kan ook virtueel deelneem. Laai dan net ’n selfie van jou en jou inskrywingsnommer op Ithemba se Facebook- of Instagram-blad om in aanmerking te kom vir Woolworths-geskenkbewyse ter waarde van R500 elk.
Hoe om in te skryf:
Besoek https://www.entryninja.com en tik Hope Hike in die soekblokkie.
Koste: R80 per persoon, R50 vir studente en skoliere (2,5 km of 5 km).




