Die ongelukstoneel waar Bradley Davids (43) en Ruvonne Dampies (20) gesterf het.


Twee geliefde kollegas van McDonald’s in Jan van Riebeeck-rylaan het Saterdagaand tragies in ’n motorongeluk gesterf.

Bradley Davids (43) en Ruvonne Dampies (20) was op pad huis toe, toe die ongeluk omstreeks 22:00 in Jan van Riebeeck-rylaan gebeur het. Volgens kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van Paarl-polisie, het die bestuurder van ’n Ford Ranger-bakkie beheer oor die voertuig verloor en teen die Honda Ballade gebots waarin Davids en Dampies gery het.

“Daar word beweer dat die bestuurder van die Ford Ranger, woonagtig in Klapmuts, beheer oor sy voertuig verloor het, ’n lamppaal getref het en toe teen die Honda gebots het wat aan die ander kant van die pad gery het. Die oorledenes is albei van Paarl-Oos. Die be­stuur­der van die Ford Ranger het ernstige beserings opgedoen en is na die hospitaal gehaas.”

Davids se broer Charles Davids sê hul familie is stukkend, veral nadat hul oudste broer Morrathan Abrahams ook twee jaar gelede weens Covid-19 gesterf het. Charles beskryf Bradley as ’n sagte en hardwerkende mens en ’n pa wat baie lief was vir sy kinders. Hy het drie dogters en ’n seun – Geneveave Sias (24), Ceziah Davids (13), Muirné Davids (12) en Bjorkhen Cupido (7). Davids se skielike dood is ’n verdere slag vir sy oudste dogter Geneveave omdat sy volgende week haar 25ste verjaardag vier.

“Ja, daar is hartseer, maar daar is ook die onthou van die mooi oomblikke wat sy met haar pa gedeel het. Dit laat haar moed skep om weer aan te gaan. Die werklikheid sal seker inskop as sy hom gaan sien. Sy weet hy is dood, maar sy het hom nog nie gesien nie. Hulle het nog Saterdag, ure voor sy dood, ’n gesprek ge­voer. Hulle sou saam na die derby [van Klein Nederburg en New Orleans] gegaan het, maar sy en haar pa het toe nie na die derby gegaan nie.”

Charles voeg by dat Bradley se dood ook baie moeilik vir sy vrou, Rozaine, is veral omdat sy die naweek weg van die huis af was.

“Sy en familielede was op ’n kamp. Die oomblik toe ons haar bel, het sy nie onmiddellik geregistreer nie, maar sy het eers oomblikke daarna besef wat vir haar gesê is; dat haar man dood is.

“Toe sy Sondagmiddag by die huis kom, het sy vreeslik gehuil. Dis baie hartseer.”

Regail Botha, Ruvonne se ma, sê haar moederhart is stukkend. Sy kan nie die hartseer wat sy ervaar beskryf nie.

“Dis baie hartseer, maar sy het altyd gesê as ek of haar pa voor haar moet doodgaan dan sal sy dit nie kan hanteer nie. Dit was altyd haar woorde gewees en daar is sy nou voor my dood,” sê ’n gebroke Regail.

Sy beskryf haar laatlammetjie as ’n “borrelende mense-mens” en iemand wat altyd die ligpunt was in ’n geselskap tussen haar vriende en familie.

Dampies laat ook haar jong seuntjie, Hayden, agter wat in September twee jaar oud word.

“Sy was op Boland-kollege waar sy HR (menslikehulpbronne) studeer het. Sy het ook deeltyds by McDonald’s gewerk.

“Ná haar klasse het sy gaan werk, en selfs naweke ook. Sy het so baie drome gehad. Sy het HR studeer en wou ook ’n polisievrou geword het.

“Sy het altyd gesê sy gaan vir my ’n huis koop. Sy sal vir my sorg – dit was haar woorde aan my.

“Sy het drie broers en sy was die enigste meisiekind. Sy is die laatlammetjie.”

Intussen het Du Plessis bevestig dat Paarl-polisie ’n saak van strafbare manslag ondersoek. . Two beloved colleagues, Bradley Davids (43) and Ruvonne Dampies (20), from McDonald’s in Jan van Riebeeck Drive died tragically in a car accident on Saturday evening.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article