Klein Kokkedoortjie Thali Hugo droom om eendag haar eie restaurant te bedryf. Foto: Johan Nel


Thali Hugo, die graad ses-leerling aan Laerskool Hugo Rust op Wellington wat pas aangewys is as een van tien finaliste wat binnekort aan kykNet se gewilde Kokkedoortjie-kompetisie gaan deelneem, is ’n gebore kok.

Haar ma, Aletha Hugo, is hoof van spyseniering by ’n bekende sorgsentrum vir bejaardes in die Paarl en haar ouma het haar lewe lank ’n restaurant bedryf.

Die kompetisie vir jong skoolkinders waaraan sy tans deelneem is geskoei op kykNet se bekende Kokkedoor-kompetisie vir volwasse kokke. ’n Groot aantal kinders het aanvanklik ingeskryf vir die Kokkedoortjie-kompetisie.

Uit hulle is die 45 beste jong kokke aangewys en uit dié groep is die tien uitstaande jong kokke aangewys van wie Thali een is.

Die programme om te bepaal wie van hierdie tien uiteindelik aangewys sal word as Suid-Afrika se Kokkedoortjie, word vanaf 5 April deur kykNet uitgesaai.

Volgens Thali dink sy, so tussen haar skoolwerk deur, voortdurend interessante resepte uit.

Die resep wat op die oomblik deur haar gedagtes dwaal is ’n resep vir ’n heerlike kalamari met aartappelskyfies as hoofgereg en as nagereg ’n propperse parfait met ’n lekker karamelsousie.

Haar droom is om eendag haar eie restaurant te bedryf wat hoofsaaklik op fyngebak konsentreer . . . hoewel sy darem ook so af en toe dink dat dit nogal lekker sal wees om as ’n danser opgelei te word!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article