Honderde Klopse-protesgangers het op 11 Maart die strate van Wellington getrotseer om te veg vir hul reg op vrede en vir hul deelname aan tradisies.Foto’s: Verskaf

Credit: SYSTEM

Kom reën, kom wind – die Klopse het Wellington se strate met hul instrumente op Saterdag (11 Maart) getrotseer in ’n protesaksie teen toenemende klipgooiery, geweld en intimidasie onder kinders en jong musikante in die dorp.

“Ons is bly oor die afloop van die protesaksie. Honderde mense het opgedaag en in die koel weer musiek gemaak. Die Wellington-polisie tesame met wetstoepassers, die verkeersdiens en Pops het ons baie goed ontvang, die groep veilig begelei en die mars naatloos laat verloop.”

So sê die voorsitter van die Drakenstein United Coon Carnival, William Walters, wat sy kommer oor die toename in ernstige klipgooi-geweld onder kinders in verskeie gebiede van Wellington uitspreek.

Die klopse-protes was ’n verlengstuk van die Khoisan-protes wat ook Saterdag (11 Maart) gehou is.

Dit is met dié aksie waar die Klopse-gemeenskap met ’n vredevolle optog ’n memorandum aan die Wellington-polisie oorhandig het.

“In dié memorandum het die Klopse geensins die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe as ons vyande uitgekryt nie. Ons sê ons is vriende van die polisie en wil saamwerk om die kwale onder ons jeug en kultuur uit te woed. Ons wil help om die orde in ons gemeenskap te herstel.”

Walters verduidelik die Klopse-aksie was in samewerking met en ’n verlengstuk van die Khoisan-protes wat ook op 11 Maart gehou is.

Die Khoisan-optog is tegelykertyd uitgevoer ter ere van hul kultuur, naamlik die van die regmatige inheemse bevolking van Suid-Afrika.

“Die Khoisan-vrou wat ’n praatjie gelei het, het so mooi gepraat oor die tradisionele waardes en respek wat die Khoisan-kultuur destyds teenoor hul ouers en bejaardes eerbiedig het. Haar woorde het so ’n impak op my gehad, en hoe sy ons jongmense wou inspireer om dieselfde waardes in die gemeenskap te herstel,” sê hy.

Honderde Klopse-protesgangers het 11 Maart die fokus op waardes en respek hervestig om hul kultuur van bose kwale te verlos.

Die passievolle aksies waardeur Wellingtonners hul veiligheid, aansien en respek in die gemeenskap wil herbou, volg nadat die strate van Wellington die jaar stil-stil binnegegaan het sonder die vrolike passies en ritmes van die tradisionele Klopse-vertonings.

“Dit is met spyt dat die Klopse-unies saam ’n besluit geneem het om nie met die jaarlikse Klopse-kompetisie (vroeër vanjaar) voort te gaan nie.”

Soos voorheen in Paarl Post berig, sê Walters dat die feestelike klanke van die Klopse in die dorp ’n jare lange tradisie is wat op Tweede Nuwejaar begin en die hele Januarie duur.

“Ongelukkig het ons gevrees dat dit meer kwaad as goed sou inhou om in die nuwe jaar daarmee voort te gaan. Dit is as gevolg van die toename in bendeverwante geweld wat Klopse-musikante en studente teiken.”

Klopse van Wellington kon weer hul vrolike klanke saam die strate inneem om geweld en misdaad aan te pak.

Walters sê dat hulle vroeër reeds met oefeninge en voorbereidings vir die Klopse-seisoen begin het, maar hulle is toe reeds deur misdaad geteister.

“Daar was voorheen verskeie insidente waar ons musikante se instrumente gesteel of beskadig is. Baie van hierdie musikante is nog jonk en hulle is deur bendelede geteiken en hul instrumente is gesteel, sommer so op pad na die oefeninge toe.”

Hy sê verder dat baie van hul lede te voet na Klopse-byeenkomste moet gaan en so word hulle sagte teikens.

“Die risiko wat die seisoen nou inhou is te hoog en ons wil nie ons lede verder aan misdaad blootstel nie. Ons gaan dit nie waag dat hierdie aanvalle in meer ernstige voorvalle kan ontaard nie.”

Tans word nóg ’n protesaksie en bewusmaking bespreek om geweld en misdaad in Wellington te bekamp. Die datum van die volgende optog moet nog bevestig word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article