Die foto is een voorbeeld van die fietse wat, onder andere, gedurende Woensdag in Suider-Paarl gesteel is.

Facebook

‘n Dringende beroep is gedoen oor ‘n soektog na 14 duur resiesfietse wat gedurende Woensdagaand op ‘n gastehuisplaas in Suider-Paarl gesteel is.

Daar is wyd op sosiale media ‘n beroep op die publiek gedoen om op die uitkyk te wees na die peperduur fietse wat glo aan die nasionale Mauritiaanse-fietsspan behoort. Die internasionale span was besig om by die gastehuis op ‘n welbekende plaas in Suider-Paarl besoek af te lê toe die diefstal plaasgevind het.

Een so verspreidende boodskap wat vermoedelik deur die gastehuis se bestuur uitgereik is, lui soos volg: “Ons het ‘n fietsry-span uit Mauritius wat hier tuisgaan. 14 Duur resiesfietse is uit [die] kelder gesteel wat agter slot en grendel was. [Die] polisie [is] op pad en ons volg asseblief enige leidrade op indien iemand enige inligting het sal ons dit waardeer.”

‘n Fietswinkel in Paarl Bicycle Garage het ook op sy Facebook-blad melding gemaak van die diefstal en dat die fietse dringend terugbesorg moet word. Die inskrywing verduidelik dat die internasionale span glo teen die einde van die week weer landuit moet vetrek om aan die Afrika-kampioenskappe fietswedren deel te neem.

Volgens ‘n werknemer by dié winkel wat anoniem wil bly, is die beraming van die fietse se waarde tussen R100 000 en R200 000 elk.

Amptelike kommentaar van die Paarl-polisie kon nie betyds beskikbaar gestel word nie. Die bestuur van die gastehuis het geweier om kommentaar aan die Paarl Post te lewer. 

Die Paarl-polisiewoordvoerder kapt. Louise du Plessis sê dat enige iemand wat oor inligting of leidrade tot die diefstal beskik, vir haar sal kontak op 082 850 9614.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article