Klipgooiery het verlede Donderdag (13 April) weer in Wellington kop uitgesteek toe ’n waarskuwing op ’n plaaslike Facebook-groep gedeel is oor ’n voorval by die daghospitaal in Van Wyksvlei.

Dit volgens plasings op Facebook-groepe soos Paarl Crime, Incidents in SA en Traffic INFO, sowel as Wellington Aksie Groep (WAG). Inskrywings beweer dat kinders weer by klipgooiery en ’n skietery betrokke was.

Volgens die waarnemende bevelvoerder van die Wellington-polisie, lt.kol. F.S. Gordon, het die polisie in Wellington aan die klagte aandag gegee, “maar geen verslag oor enige skietery is opgeteken nie”.

Geen verslag van beserings of skade aan eiendom is deur die polisie ontvang nie, voeg Gordon by.

“As die waarnemende bevelvoerder wil ek enigiemand wat van skietery bewus is nooi om die saak aan te meld sodat die polisie dit kan ondersoek.”

Dit volg ná ’n reeks voorvalle waarin kinders nie net deur dié roekeloosheid fisiek en emosioneel bedreig word nie, maar selfs aan die waansin van klipgooiery en geweld onder mekaar deelneem.

Dit is die jongste voorval enkele weke nadat daar ook op ’n Donderdag (23 Maart) gevegte voor Weltevrede Sekondêr in Champagnestraat in Wellington losgebars het.

Gordon het toe die voorval bevestig en gesê dit kan nie juis aan net bendegeweld toegeskryf word nie.

“Dit is nie juis bendegeweld nie, maar eerder sogenaamde ‘straat-laaities’ of kinders wat klippe gooi en mekaar voor die skool aanrand.”

Raadslid Stephan Landsberg verskil egter en sê dat dit ’n sameloop van omstandighede is wat tot die aaklige tendens van geweld onder kinders lei.

“Daar was verlede week weer klipgooiery voor Weltevrede Sekondêr wat verband hou met bendes soos die Wild Cats of Duiweltjies.

“Die probleem spruit uit kinders wat uit die skool geskors word of dit verlaat en nie weer wil terugkeer nie.

“Die klipgooiers en bendes se ouers word ook ore aangesit en het geen beheer oor hul kinders se doen en late nie.”

Dit is gou opgevolg deur ’n vergadering wat deur die polisie, die skool en gemeenskap gehou is en waar planne beraam is om leerders en die omgewing veilig te hou, en ten einde die probleem op te los.

“ ’n Vergadering is met rolspelers oor die veiligheidskwessies gehou. Die Wellington-polisie sal polisiesigbaarheid rond­om die skoolperseel verbeter.

“Ingevolge die skoolveiligheidsplan is kennisgewingborde sigbaar geplaas om mense, insluitend skoliere, te waarsku oor betreding van die skoolterrein,” het Gordon by ’n vorige geleentheid gesê.

Sy het ook genoem dat ’n opvolgver­gadering op 28 Maart gehou is om verdere veiligheidsmaatreëls te bespreek.

Weltevrede Sekondêr het die klipgooivoorval en opvolgvergadering met owerhede aan Paarl Post bevestig.

Die vergadering is deur ouers, die burgemeesterskomiteelid Christephine Kearns, raadslid Ruth Arnolds, lt.kol. Gordon, onderwysers en die kringbestuurder Lindley Turner bygewoon en ’n plan is beraam om kinders beter te beveilig.

In reaksie op medianavrae het die Drakenstein-munisipaliteit se direkteur van gemeenskapdienste, Gerald Esau, bevestig dat die betrokke raadslede wel die vergadering bygewoon het.

Die munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling het egter nie die vergadering bygewoon nie, aangesien dit ’n Suid-Afrikaanse Polisiediens-aangeleentheid was, sê Esau.

Gordon verseker dat elke aangeleentheid wat by die polisie aangemeld word as ernstig beskou word en “ons verbind ons dus daartoe om misdaad te ondersoek indien dit aangemeld word”.

Alle inligting sal as vertroulik beskou word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article