Die Stellenbosch-munisipaliteit het bevestig dat klasse by die Groendal Primêre Skool in Franschhoek hervat is nadat ’n brand Woensdagoggend by die skool uitgebreek het.
Volgens Stuart Grobbelaar, ’n Stellenbosch-munisipale woordvoerder, is alle leerlinge en personeel ongedeerd.
“Die skade is beperk tot een gebou op die perseel. Stellenbosch se branddienste kon dus daarin slaag om die vuur in te kamp. Die skool is intussen veilig verklaar.
“Ons is baie dankbaar aan die Groendal-gemeenskap wat ons dadelik oor die brand in kennis gestel het,” het Grobbelaar by navraag aan Paarl Post gesê.
Norman Afrika, die skoolhoof, het by verdere navraag aan Paarl Post bevestig dat die brand by een van die skool se toilette uitgebreek het.
“Dit het so kort na agt gebeur toe beurtkrag in werking getree het. Ons het toe dadelik ons noodplan uitgevoer waartydens leerlinge en onderwysers by ’n punt van veiligheid byeengekom het.
“Dit is in die stadium nog nie duidelik wat tot die brand gelei het nie. Ons is in die proses om ’n verslag oor die omvang van die skade bymekaar te sit wat dan aan die onderwysdepartement in die provinsie deurgegee sal word.”
Volgens Grobbelaar word die oorsaak van die brand ondersoek.





