WAARSKUWING: Die inhoud van die berig kan sommige lesers ontstel.
Drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n negejarige seun in Klapmuts aangerand en ontvoer het, se saak is weer uitgestel tot 22 April en oorgeplaas na die streekshof.
Dít is volgens Veronica Galant, voorsitter van Klapmuts se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).
Justin Limco (21), Nathan Nuuvenhuis (24), en Zane Marthinus (34) word elk deur vier aanklagte in die gesig gestaar, naamlik ontvoering, poging tot moord deur middel van elektriese skok, poging tot moord deur middel van verdrinking en poging tot moord deur middel van aanranding.
Dit was op 8 Februarie se hofverrigtinge in die Paarl-landdroshof bekendgemaak.
Die voorval, wat op video vasgevang is, spruit uit ’n onderonsie tussen die drie mans en die minderjarige, waar hulle hom daarvan beskuldig dat hy glo R600 by hulle gesteel het.
Volgens kol. André Traut, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het die voorval op 27 Januarie plaasgevind. Die hofverrigtinge van 8 Februarie het egter aangevoer die voorval het op 25 Januarie plaasgevind.
Volgens die seun se ma het sy eers twee dae later van die voorval gehoor en daarna op 28 Januarie ’n klagte die by Klapmuts-polisiekantoor aangemeld.
Sy het verduidelik haar seun het niks oor die video gesê nie – “seker uit vrees” – en dat sy daarvan gehoor het toe iemand wat glo tydens die voorval teenwoordig was, haar vertel het.
In ’n video, wat soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het en intussen verwyder is, kan gesien word hoe drie mans die minderjarige deur middel van oorleikabels skok.
Die video dokumenteer hoe die seun se hande aan ’n staalsaag met plastiek-kabelbinders vasgebind is en daarna met oorleikabels aan ’n Volkswagen Golf se battery verbind is.
Daarna word water oor die staalsaag gegooi, waarna die oorleikabels aan die saag vasgeknip word sodat dit die seun skok.
Die marteling duur dan voort toe die seun met ’n gordel geslaan word. Daarna gooi die seun se aanranders hom kop-eerste in ’n munisipale drom en probeer hom versmoor nadat hulle die drom se deksel toegemaak het.
Die video eindig waar die drie misdadigers ’n waterpyp in die drom druk met die doel om die seun te verdrink.
Regdeur die video kan gesien word hoe die seun huil en smeek om sy lewe, terwyl omstanders lag.
LEES OOK: Klapmuts-mans wat minderjarige aanrand laat vaar borgaansoek
Volgens die seun se familie ly hy aan skok en sukkel om die voorval te verwerk.
Die familie en oortreders woon in dieselfde straat in Klapmuts en is bure van mekaar.
Die seun en sy familie se name word weerhou omdat hy minderjarig is.





