As Ver in die wêreld Kittie op ’n Franse verhoog opgevoer sou word, sou dit in daardie taal as niks minder as magnifique beskryf word nie!
Dit is presies wat die legendariese David Kramer se musiekblyspel is.
Ver In Die Wêreld Kittie keer na die verhoog terug vir ’n beperkte aanloop tot 11 Augustus 2024, met matinees op Saterdae en Sondae om 14:00 en 16:30 by die splinternuwe Blik-teater in die hartjie van die Epping-markdistrik.
Kramer se vertoning vertel die verhaal van die Suid-Afrikaanse volksanger Josef Marais van Worcester, en sy vrou, Rosa de Miranda. Die egpaar het sukses behaal in Amerika en Kanada, maar onbekend in Suid-Afrika gebly.
Hulle het in die 1950’s bekendheid verwerf as balladesangers wat Afrikaanse volksliedjies in Engels uitgevoer het. Later het dit ’n probleem geword toe die musiek se oorspronklikheid en eienaarskap bevraagteken is. Kittie Jaftha, ’n vrou wat by Josef se ma in Worcester grootgeword het, voel verraai omdat sy weet Josef het hierdie liedjies by haar en Koos Heuningbek, ’n werker op die plaas van Koos se pa, geleer.
Kaartjies kos R230 (R200 vir seniors) en is beskikbaar op Webtickets.
Die vertoning word in Engels en Afrikaans opgevoer met Engelse byskrifte.
Die rolverdeling en musikante is soos volg: die bekende Paarliet André Terblanché as Josef Marais, Dean Dorvan Balie as Koos Heuningbek, Rushney Ferguson as Kittie, Jenny Stead as Rosa de Miranda, Kerryn Torrance op viool, Nick Turner op akoestiese kitaar en Cajon Yvan Potts op klawerbord.





