Die burgerregteorganisasie AfriForum, in samewerking met Manie Botha van Evolve Life, het verlede Donderdag by die Laerskool Noord-Eind besoek afgelê ter ondersteuning van leierseienskapontwikkeling.
“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en hoop in skole te skep. Elke kind in ons land verdien dit om die nodige leiding te kry om hul leierseienskappe te ontwikkel, omdat ons kinders die leiers van môre is. Die beste ding wat ons kan doen is om jongmense te bemagtig en dit moet reeds op laerskoolouderdom begin,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir junior jeugleierskapsontwikkeling.
“Ons land se jongmense staar uitdagende tye in die oë. Om die regte leiersgereedskap in ’n kind se leiersmondering in te bou is nie net ’n noodsaaklikheid nie, maar ook die verantwoordelikheid van elke instansie en organisasie. Iemand wat in die jeug belê glo in die toekoms.
“Die leierskapsontwikkeling-werksessie is deel van die slypproses van ons land se kosbare diamant-kinders. Dit leer hulle verskeie vaardighede, onder meer hoe om hul passie te ontdek en doeltreffend te kommunikeer. Dankie aan die Laerskool Noord-Eind en AfriForum wat glo in die opbou van ons jeug,” sê Manie Botha, spreker en lewensafrigter van Evolve Life.
Volgens André Dippenaar, onderwyser by Laerskool Noord-Eind, is leierskapsontwikkeling vir die skool belangrik omdat dit geleenthede bied vir groei en om ’n positiewe verskil in die gemeenskap te maak. “Ons het leiers nodig wat probleme kan oplos en innoverend dink. Die leerlingraad het die opleiding baie geniet en ons was bevoorreg om dit te kon ervaar. Baie dankie aan AfriForum wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het,” sê Dippenaar.
Stuur e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za of tania.scheepers@afriforum.co.za as jou kind by AfriForum en Evolve Life se leiersontwikkeling betrokke wil raak.





