Die verkiesingskommissie het gister aangekondig dat die kiesersregistrasie-naweek met twee weke uitgestel is as gevolg van die derde vlaag van die Covid-19 pandemie wat tans heers.
Dié kommissie het gister tydens ’n spesiale vergadering besluit om die naweek van die kiesersregistrasie, wat aanvanklik vir die naweek van 17 tot 18 Julie geskeduleer was na die naweek van 31 Julie – 1 Augustus te skuif.
Die besluit is geneem na aanleiding van die hoë infeksiesyfers en hospitalisasies gedurende die afgelope sewe dae en die impak daarvan op die voorbereidings vir die registrasie-naweek.
Volgens die verkiesingskommissie het gesondheidskenners die afgelope week gesê dat die huidige derde golf infeksies waarskynlik tot minstens die einde van die maand sal voortduur.
Met inagneming van die verskillende faktore, insluitend die grondwetlike tydsbestek wat vereis dat die verkiesing voor 1 November 2021 gehou moet word en die minimum tydperk wat nodig is vir die verkiesingsrooster, het die verkiesingskommissie besluit om die kiesersregistrasie-naweek uit te stel tot die jongste moontlike datum.
Die uitstel van twee weke het egter ’n uitwerking op sekere datums en aktiwiteite wat verband hou met die proklamasie en verkiesing, insluitend die uitstel van die proklamasie met vier dae tot 6 Augustus. Die verkiesingskommissie meen egter dat hulle vol vertroue is dat ’n suksesvolle verkiesings binne ’n verkorte rooster van 82 dae in plaas van die oorspronklike 86 dae gehou kan word.
In die verklaring wat die verkiesingskommissie uitgereik het skryf hulle dat alhoewel die verkiesingskommissie aanvaar dat die vertraging van twee weke moontlik nie ideaal is om die derde golf in alle provinsies te laat afneem nie, het die verkiesingskommissie ’n baie beperkte ruimte om die registrasie-naweek te skuif sonder om die verkiesing self uit te stel.
“Die Kommissie wag nog op die finale verslag van die Moseneke-ondersoek oor die vraag of die verkiesing vry en regverdig kan wees as dit op 27 Oktober geskeduleer is. Die ondersoek word gelei deur die voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke, wat sy verslag en sy aanbevelings teen 21 Julie 2021 aan die Kommissie moet voorlê,” lui die verklaring.




