Die parmantige bobbejaan wat verlede week Paarliete op hol gehad het, het vandeesweek sowaar teruggekeer dorp toe!
Kees het Maandagmiddag (29 Januarie), presies ’n week nadat hy sy verskyning in die middedorp gemaak het, besoek gaan aflê by inwoners in die Amstelhof-woonbuurt in Paarl-Oos.
Die gebied is geleë naby die voet van die Drakenstein-berge (Du Toitskloofpas), waar wetstoepassers van die Drakenstein-munisipaliteit en ’n veearts van Wellington hom verlede Maandag (22 Januarie) vrygelaat het.
LEES OOK: KYK | Paarl-bobbejaan se aapstreke in dorp vir eers verby
Hy het verlede week in die middedorp rondgehardloop en uiteindelik by die Drakenstein-munisipaliteit se hoofkantoor vir ’n paar uur gaan vertoef. Hy is daarna na die landdroshof, ’n klipgooi weg van die munisipale gebou, waar ’n veearts hom uiteindelik kon verdoof.
Inwoners van Amstelhof was Maandagmiddag in rep en roer toe hulle die vreemde besoeker teëgekom het.Die bobbejaan het besoek gaan aflê in Jan Fiskaal- en Kanariestraat en het groot skares gelok.
Die bobbejaan is in ’n inwoner se huis vasgekeer en wetstoepassers, die Paarl-Oos-polisie asook ’n veearts was op die toneel om die situasie te beredder.
Eda Barnard, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van openbare veiligheid, het by navraag gesê “die veearts het aan Drakenstein-munisipaliteit se amptenare bevestig dat dit wel dieselfde bobbejaan is wat verlede week ook die Paarl besoek het”.
“Ons kan verder bevestig dat dit dieselfde veearts is wat verlede week die geval gehanteer het. Dié veearts spesialiseer in die behandeling van ‘groot diere’ en is daarom spesifiek deur CapeNature aanbeveel, gegewe die unieke situasie,” sê Barnard.
Nanandi Albers, ’n aktivis vir diere- en omgewingsbewaring, het aan Paarl Post gesê daar is ’n aantal faktore wat kon lei tot Kees se terugkeer.
“Een faktor is dat hy dalk uit die trop geskop is weens dominansie onder die mannetjies. Dit sal dan beteken dat omgewingsbewaringsbeamptes hom sal moet rehabiliteer en by ’n ander trop moet herintegreer.”
Petro van Rhyn, woordvoerder van CapeNature, het verder by navraag bevestig dat die bobbejaan dieper in Du Toitskloof vrygelaat is – verder van die dorp af.





