Die Kavaliers se Thurlow Marsh op die aanval teen die Olifante.Foto:


Die Boland Kavaliers het Saterdag (4 Maart) hul onoorwonne status behou toe hulle die Olifante van Gqeberha met 26-17 op die Boland-stadion geklop het.

Die oorwinning beteken Boland sal op 24 Junie op sy tuisveld in die eindronde speel.

Met slegs 11 spelers diep in die moeilikheid in die pylvak van Saterdag se Curriebeker- Eerste Liga-wedstryd het die Bolanders goeie veggees en karakter openbaar.

Die manne van die Baai het aanval op aanval van stapel gestuur, maar die troepe van die afrigter Franzel September was rotsvas op die verdediging.

Die Bolanders was rustyd 19-5 voor.

Die Kavaliers het die skrums behoorlik oorheers voordat die skeidsregter, Sean Muller, die stut Wayrin Losper in die 60ste minuut met ’n geelkaart koelkas toe gestuur het.

Die heelagter, Connor Mahoney, moes toe die veld verlaat sodat die plaasvervangerstut Charles Nimb in die skrums kan sak. Nimb is egter in die 64ste minuut van die wedstryd ook vir tien minute koelkas toe gestuur. Daarna moes die kaptein, Thurlow Marsh, ook langs sy spanmaat gaan afkoel. Die agtsteman, Keenan Opperman, is ’n minuut later ook deur Muller gepos.

Die manne van die Baai het uit alle hoeke aangeval, maar die Bolanders se veggees was uitstaande en hulle het tot die bitter einde karakter gewys. Die plaasvervanger Darian Hock het drie minute voor die eindfluitjie met ’n verdoelde drie onder die pale afgerond.

Marsh het agterna gesê dit was ’n wedstryd van twee helftes. “Ons het baie geleenthede verbrou en moes in die eerste helfte seker drie of vier drieë meer gedruk het. Die OP was meer fisiek as ons in die tweede helfte; hulle het veral by die afbreekpunte oorheers. . Die Kavaliers speel Saterdag 11 Maart in Potchefstroom in hul laaste Eerste Liga-wedstryd, voor die Mzanzi Challenge op 25 Maart.

Puntemakers:

Boland 26: Drieë – Dillon Maart, Connor Mahoney, Cameron Hufke, Darian Hock.

Doelskoppe: Feghan-Leigh Snyders (2), Cameron Hufke. OP: 7.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article