Die Kavaliers se Jurick Lewis op een van sy praglopies teen die Valke, met goeie ondersteuning van sy spanmaats.Foto: Heinrich Stubbs (Winelands Studio).


Die Boland Kavaliers het hul Curriebeker-eerstedivisieveldtog Saterdag (11 Februarie) met ’n prag-oorwinning van 48-22 teen die Valke afgeskop.

Die eerste helfte van die wedstryd, wat op ’n volgepakte Boland-stadion in Wellington gespeel is, het aan die besoekers behoort, wat teen rustyd 12-15 voorgeloop het.

Keenan Opperman en Feghan-Leigh Snyders was die drie-drukkers vir die Kavaliers in die eerste helfte.

Kalmerende woorde deur die breier Franzel September in die kleedkamer moes die verskil gemaak het, want in die tweede helfte was die Kavas geheel en al ’n ander mag en hulle het soos ’n span met ’n plan gespeel.

Verwoestende spel het die agterspelers in staat gestel om met vryheid te speel.

Die tweede helfte het ’n drieë-fees opgelewer, met drieë gedruk deur Peter-John Smit, Jurick Lewis, Burton Booysen, Lunathi Nxele en ’n tweede drie van die wedstryd vir Opperman, wat die oorwinning verseker sowel as ’n bonuspunt opgelewer het.

Snyders het drie van die drieë verdoel terwyl Darian Hock met twee doele en ’n strafdoel geslaag het.

Die Kavaliers lyk vroeg in die toernooi na ’n geesdriftige span wat vir niemand in die kompetisie gaan terugstaan nie.

Hul volgende wedstryd is weg teen die SWD-Arende in Oudtshoorn en die Kavaliers se bedoeling sal wees om nog ’n voël se vlerke te knip.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article