Cameron Hufke van die Boland Kavaliers onkeerbaar op pad na een van sy drie drieë.Foto: Ernest Kilowan


Die Berge om Wellington het Saterdagmiddag behoorlik weergalm toe die Boland Kavaliers die Valke se vlerke geknip het met 42-12.

Die Kavaliers het met die oorwinning die Curriebeker Eerste Divisie-trofee gewen in die eindstryd teen die span van Gauteng. Dit was ’n skouspelagtige vertoning van die manne van die Boland, met vyf pragdrieë wat hulle gedruk het teenoor die Valke se drie.

Die Kavaliers het voor ’n volgepakte paviljoen die Eerste Liga Curriebeker-kampioenskap die eerste keer sedert 2011 gewen.

Dit was ’n welverdiende oorwinning vir Thurlow Marsh en sy spanmaats, wat ’n goeie balans op die aanval en verdediging tot die einde van die wedstryd handhaaf het.

Die span van Wellington was van die begin van die wedstryd al in beheer van sake, nadat die heelagter Cameron Hufke in die derde minuut van die wedstryd afgerond het met ’n drie, verdoel deur die losskakel Darian Hock. Hufke het ’n driekuns van drieë behaal en was ’n doring in die vlees op die aanval vir die Valke, en het in die doodsnikke boonop ’n puik vertoning met sy derde drie afgerond.

Keenan Opperman het vir die Bolanders afgerond met sy drie, asook ’n strafskop deur Darian Hock, wat gesorg het vir ’n voorsprong van 15-0 in die eerste vyftien minute van die eerste helfte van die wedstryd.

Dit het die besoekers 19 minute geneem om hul eerste punte in die vorm van ’n verdoelde drie aan te teken. Opperman is net voor rustyd koelkas toe gestuur om vir 10-minute te gaan afkoel. Die manne van Kempton Park het munt uit die geelkaart van Opperman geslaan en het twee verdoelde drieë in die proses gaan druk. Die Kavaliers het egter van rat verwissel, en sy ondersteuners met aantreklike rugby vermaak.

Afrigter Franzel September se troepe het goeie karakter getoon en het soos tiere verdedig, nadat die Valke hulle fisiek probeer afknou het met hul groot voorspelers.

Boland se voor- en agterspelers het as ’n eenheid saam gespeel, met Jurick Lewis en Lunathi Nxele wat goed as ’n senterpaar gekombineer het. Nxele het sy teenstanders letterlik in hul spore gestuit op die verdediging. Ook kaptein Marsh het waardevolle besit in die lynstane van die Valke ontneem.

Boland Kavaliers 43 (28) – Drieë: Cameron Hufke (3), Keenan Opperman, Bentley Geldenhuys. Doelskoppe: Darian Hock (3). Strafdoele: Hock (3), Hufke. Valke 21 (14) – Drieë: Musa Tshabalala, Easton Arendse, Cohen Kiewit. Doelskoppe: Keagan Fortune (3).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article