Kobus Farao hou die “Paal-katjie” veilig in sy hande ná die reddingspoging.Foto: Facebook


’n Weerlose katjie wat bo-op ’n telefoonpaal in die Voorstraat-gebied beland het, was langer as ’n dag daar gestrand voordat Wellington se Dierebeskermings­vereniging (DBV) tot haar redding gekom het.

Die DBV het verlede week op sy Facebook-blad die voorval as volg bevestig: “Ons lugspan het tot aksie oorgegaan om ’n katjie hulp te bied wat, volgens ’n inwoner in die Voorstraat-gebied, sedert die vorige dag al daar bo gestrand was.

“Nadat verskillende lere op verskeie vlakke uiteindelik gestabiliseer was, het inspekteur Lienkie Bagnall en Kobus Farao haar sommer gou-gou na veiligheid afgebring.”

Volgens die DBV-bestuurder, Elizabeth Down, is die “Paal-katjie” in hul herstel-afdeling geplaas en toon goeie gesondheid.

“Dit is ’n tefie wat te kostelik en vriendelik is vir woorde! Ek skat haar so minder as ’n jaar oud. Ek vermoed dat sy in die verkeerde erf beland het en moontlik deur ’n groot hond teen die paal op verjaag is.

“Sover het niemand gekom om haar terug te eis nie. Tog het ons wel op verskeie sosialemedia-platforms die woord versprei om haar eienaars op te spoor.”

Indien die katjie nie binnekort teruggeëis word nie, gaan die DBV haar in die aannemingsprogram plaas om deur ’n liefdevolle gesin aangeneem te word.

Down het aan Paarl Post verduidelik hoe gevalle van diere wat op hoë plekke beland deur die DBV aangepak word.

“Normaalweg val rondloperdiere onder die mandaat van Drakenstein-munisipaliteit se wetstoepassing. Maar, indien daar voorvalle is waarin mense of diere in gevaar is, bied ons bystand om te help waar ons kan.”

Sy sê dat die DBV al in minstens drie gevalle waar diere op hoë plekke gestrand was, die afgelope jaar moes bystand lewer.

“Daar was in een van die gevalle omstandighede waarin ons die hulp van ’n brandweerwa benodig het.

“Daar was ook ’n voorval waar ek vir Lienkie in ’n boom moes opjaag om ’n gans, wat met klomp drade aan sy keel verstrengel was, te help red.”

Down vertel dat die DBV gereeld spesiale versoeke van die publiek ontvang. “Dit behels baie positiewe uitkomstes, omdat dit aan ons die geleentheid bied om bewusmaking en wreedheid-voorkoming toe te pas.”

Die Wellington DBV se noodnommer vir na-ure-gevalle en noodtoestande soos hierdie, is 082 905 9184.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article